Local newsNews

Die Pos nou ook in Thabazimbi te koop

Die Pos-koerant steek vandeesweek ’n klein vreugdesvuurtjie aan nadat ’n droom vir ons waar geword het.

Die koerant — wat vanjaar ons 39ste verjaarsdag vier — brei ons verspreidingsgebied amptelik na Thabazimbi uit. Dit beteken dat Die Pos nou gelees word in Bela-Bela, Vaalwater, Mookgophong, Modimolle, Thabazimbi, Leeupoort, Northam, Koedoeskop, Settlers, Pienaarsrivier, Tuinplaas en al die mooi plattelandse dorpies tussenin.

Die stigting van Die Pos in 1982 was nie ’n maklike besluit vir Eugene en Nicola Diener nie. Eugene het destyds by die Brits Pos gewerk.

“Ek het in die bad gelê en na die skou-uitsendings van Warmbad geluister,” het hy in ’n vorige onderhoud met Die Pos vertel.

“Ek gaan sê toe vir Jakkie (hy het die Wimpy in Brits gehad) ek wil ’n koerant op Warmbad begin en of hy vir my ’n bietjie geld sal leen.

“Jakkie het al hoe meer in my storie begin glo, veral nadat ons een naweek in Warmbad en Nylstroom gaan kuier en uitgevind het daar is nie ’n plaaslike koerant nie.”

“Ek het my ouers gebel en gesê ek gaan ’n koerant begin en ou Jakkie sal my, onder al hoe strenger voorwaardes, R2 000 as vennoot gee. My ma het gesê: Boesman, jou pa sal jou nie die geld gee nie en ek het niks nie.”

Sy ma het egter ’n dag of wat later weer gebel met die goeie nuus dat sy pa besluit het om vir Eugene R2 000 “voorskot op sy erfporsie” te gee. En net daar was die jong Diener-egpaar op pad Warmbad toe en Die Pos is “gebore”.

Die koerant is in Februarie 1991 aan wyle Danie en Isabel Stolz verkoop en in 2001 het die huidige eienaars, Keina Swart en Bea Emslie, die koerant gekoop. Die eerste uitgawe onder hul leiding het op 4 Mei 2001 (20 jaar gelede) die lig gesien.

Albei van hulle was toe reeds jare lank redaksielede van Die Pos onder die koerant se vorige eienaar. Keina is steeds redakteur en deesdae ook bestuurder van die koerant nadat Bea in Januarie 2020 afgetree het.

Onder dié twee vroue se leiding het die koerant gegroei tot een van die suksesvolste ondernemings in die Bosveld wat reeds talle kere op nasionale vlak vereer is.

Sowat vier jaar gelede het Die Pos ’n stap vorentoe geneem en werklik saam met die groot honde begin blaf toe hulle die Caxton-mediagroep as aandeelhouer verwelkom het.

Die Pos se hoofkantoor is in Bela-Bela. Ons het ’n buitekantoor in Modimolle en voltydse verteenwoordigers in Mookgophong en nou ook Thabazimbi.

Die koerant word in Polokwane gedruk en vandaar na meer as 100 verspreidingspunte in die Waterberg versprei. FC Pelser het in Februarie 2021 vanaf Centurion na Thabazimbi verhuis om Die Pos se Thabazimbi-tak te bestuur.

Inwoners van Thabazimbi is welkom om hom te bel by tel. 071 422 1278 of vir hom e-pos te stuur na thabapos@gmail.com(.) Hy sien uit daarna om Thabazimbi se mense te leer ken. Daar is spesiale tariewe vir adverteerders wat in die Thabazimbi-uitgawe van Die Pos wil adverteer.

Die Pos is trots daarop om ons aan Thabazimbi te verbind. Mag die nuus goed wees. Mag hegte vriendskappe gesmee word en sakehande geneem word.

  • Die Pos verskyn elke Vrydag en word teen R8 verkoop. Verkoopspunte in Thabazimbi is tans slegs by Pick n Pay, Foodzone en Spar. Winkeleienaars wat graag Die Pos by hul sakeondernemings wil verkoop, kan vir Anneline du Preez soggens skakel by tel. (014) 736 2723. Sakeondernemings hou self ’n deel van die verkoopprys en betaal slegs vir die aantal koerante wat verkoop word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button