Local newsNews

Skoolhoof wil help om geskiedenis te bewaar

Die hoof van ’n skool in die Settlers-omgewing buite Bela-Bela het Die Pos die afgelope week besoek met ’n interessante storie oor ou grafte op die skoolterrein.

Die hoof het versoek dat sy naam, asook die skool se naam, weerhou word uit vrees dat politici die skool sal verhoed om die erfenisskatte op die skoolterrein te bewaar.

“Ek is al drie jaar die skoolhoof van ’n skool wat in 1920 gestig is. Daar is ’n baie ou begraafplaas op die skoolterrein met grafstene wat uit die vorige eeu dateer. Die terrein is tans ’n stortingsterrein vir vullis en die grafstene lê in stukke,” het hy gesê.

Hy het in sy navorsing by plaaslike gemeenskapsleiers inligting bekom wat dui dat van hierdie grafte aan stigterslede van die skool behoort.

Hulle was bekend in die omgewing vir hul welwillendheid. Van die vanne op die verrinneweerde grafstene is “Van der Walt”, “Luüs” en wat lyk na “Van Dyk”.

Van die grafte dateer uit die laat 1800’s en 1920, het die hoof aan Die Pos gesê.

“Die oorledenes bly steeds mense wat ’n rol in die opheffing van ons omgewing gespeel het. Hulle was direk betrokke by die totstandkoming van ’n skool wat aan die kinders van die omgewing ’n onderwysgeleentheid gebied het,” het hy gesê. “Hul nalatenskap moet erken en bewaar word. Daar kan dalk meer grafte wees, maar die toestand van die terrein is feitlik onbegaanbaar. Ek hoop dat iemand na vore sal kom wat ons kan help om hierdie nalaten- skap te bewaar.”

Die behoefte is tans vir ’n heining wat hierdie klein geskiedkundige terrein teen betreders kan beskerm.

Mense wat meer oor die skool en grafte wil uitvind en moontlik inligting kan verskaf, of betrokke wil raak by die oprigting van ’n heining, kan vir Andries van der Heyde van Die Pos bel by tel. 072 953 7863 vir kontaknommers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button