Local newsNews

Lekker, louwarm badwater vir erg beseerde wipneuskobra

’n Beseerde wipneuskobra van ongeveer 1,2 m is op Vrydag 5 Maart in die Modimolle-nywerheidsgebied gevang en word tans versorg deur Theunis Victor, bekende slangvanger en -kenner van die dorp.

Victor het aan Die Pos vertel hy is op dié dag gevra om ’n slang uit ’n gebou se afvoerstelsel te verwyder.

“Toe ek die drein se deksel afhaal, het ek gesien die wipneuskobra is met motorolie besmeer en redelik omgekrap. Ek het die slang gevang en by my huis gaan skoonmaak met louwarmwater en seep. By nadere ondersoek het ek verskeie wonde opgemerk, asook ’n groot knop aan die slang se regterkant. Ek kon nie die slang in hierdie beseerde toestand vrylaat nie en het die hulp van drs. Marina Bredell en De Wet Barnard, albei veeartse van die Kranskop-dierekliniek, ingeroep.”

 

Volgens Victor is die slang by die dierekliniek ondersoek, en X-strale het getoon dat een rib gebreek is.

“Die veeartse het salf gegee vir die behandeling van die velwonde. Hulle is albei baie bekwaam en het my al voorheen gehelp met die behandeling van beseerde slange. Ek kan nie genoeg dankie sê nie,” het Victor vertel.

Die wipneuskobra, ook bekend as ’n Bosveldkapel, is nie ’n aggressiewe slang nie en slangbyte van dié spesie kom selde voor.

Die slang is egter dodelik giftig, want die gif is neurotoksies, wat die senuweestelsel aantas, asook sitotoksies, wat die weefsel aantas.

Inwoners word gemaan om nie self slange in hul omgewing te probeer vang nie, maar liefs die hulp van ’n opgeleide slangvanger in te roep. Dit is nie nodig om slange voor die voet dood te maak nie.

Mense kan ook foto’s van slange aan Victor stuur vir identifikasie om sodoende te bepaal of die betrokke slang giftig is of nie. Bel vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of Johan Badenhorst by tel. 082 084 7848.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button