Talle aftreeoorde tref bykomende voorsorg
Bela-Bela, wat bekend is as ’n aftreedorp, ondervind tans ’n skerp toename in Covid-19-gevalle.
Bela-Bela het amptelik teen druktyd op Woensdag 14 Junie 64 aktiewe Covid-19-gevalle gehad, maar kenners reken dit kan heelwat meer wees.
Amptelike syfers toon dat altesame 1 026 mense in die dorp sedert 2020 van die virus herstel het en talle pensioentrekkers in die omgewing is reeds ingeënt teen die virus.
Die bestuur van vier oorde in die omgewing wat huisvesting aan bejaardes bied, het intussen as noodmaatreël besluit om hul besoekreëls strenger toe te pas. Dit sluit Warmbad Rusoord, Caritas Village-aftreeoord, Renaissance-aftreeoord en Tuin Tuiste-aftreeoord in.
Luidens ’n verklaring van die departement van maatskaplike ontwikkeling het Warmbad Rusoord in die dorp se hoofstraat die afgelope week 25 positiewe gevalle gehad.
Streng toegangsbeheer word toegepas en inwoners ontvang mediese hulp waar nodig. Anne van Blerk, Rusoord se bestuurder, het teen druktyd aan Die Pos gesê daar is tans vyf inwoners wat selfisoleer en vyf ander wat in die hospitaal is vir behandeling. Geen ander inwoners toon tot dusver simptome nie.
“Ons is dankbaar teenoor die Here vir die genade.”
Wessie van der Westhuizen, Renaissance-voorsitter, het in reaksie gesê inwoners hou streng by die regulasies en daar is uiters beperkte kontakbesoeke.
Hy het voorts gesê die bestuur is voortdurend in gesprek met inwoners om na almal se welstand om te sien.
“Waar daar soveel huishoudings verteenwoordig is, moet inwoners mekaar in ag neem,” het hy gesê. “Ek is dankbaar om te verklaar dat slegs drie wooneenhede sedert Maart 2020 in afsondering geplaas moes word omdat die inwoners positief getoets het.”
Sosiale aktiwiteite met groot groepe inwoners is ook steeds ontoelaatbaar by Renaissance. Streng maatreëls vir aktiwiteite soos snoeker, veerpyltjies en die gebruik van die biblioteek word ook gehandhaaf.
Sanitering en die dra van gesigmaskers word ook streng toegepas. Vergaderings word beperk tot 50% van die vertrek se kapasiteit en sosiale afstande word gehandhaaf.
Die veiligheidswagte by die hoofingang verbied ook besoekers met ’n temperatuur hoër as 38°C.
“Ek betuig graag die inwoners se dank teenoor die drie apteke in die dorp wat onlangs begin het om Covid-19-inentings toe te dien. Dit skakel moeisame besoeke aan inentingsentrums buite die dorp uit.”
Charles Weber van Tuin Tuiste-aftreeoord het aan Die Pos gesê hulle inwoners is tans nog veilig.
“Die eenhede is redelik ver uit mekaar en elke inwoner gebruik hul diskresie oor hul bewegings. Daar is geen Covid-19-krisis hier by ons nie,” het hy gesê.
“As oud-apteker sien ek die tipiese simptome van wintersiektes, maar met die regte medikasie gaan dit verby. Dit bly elke inwoner se keuse of hulle die entstof wil ontvang of nie.”
Jan Pelser, voorsitter van die Caritas Village-aftreeoord, het ook gesê daar is tans geen positiewe gevalle onder hul inwoners nie.
“Die meeste inwoners van die oord is reeds ingeënt. Ons probeer vir ons inwoners die boodskap oordra dat dit veilig is om die inenting te oorweeg terwyl die geleentheid daar is.”
“Ons dra werklik die belang van ons inwoners en ons werkers op die hart,” het hy gesê.