SAVF bederf Thaba se bejaardes
Lailah Gifty Akita, stigter van die Smart Youth Volunteers Foundation in Ghana het eens gesê dat die gees nooit verouder nie, maar immergroen bly.
In min gevalle is dié woorde so waar soos by die inwoners van Thabazimbi se Bosveld-oord.
Dié groep bejaardes is bekend in die dorp as ’n hegte groep vriende wie se harte altyd oop is vir Thabazimbi en sy mense.
Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging (ATKV) in Thabazimbi het op Maandag 18 April by die inwoners van die tehuis gaan kuier.
Linda Grobler, verteenwoordiger van die plaaslike ATKV-tak, het vertel hierdie kuier is ’n jaarlikse instelling omdat dit vir dié organisasie, asook die SAVF, belangrik is om te sorg dat die dorp se bejaardes geestelik versorg word.
“Ons het besluit om sommer vroeg in die jaar al die bejaardes by Bosveld-oord te trakteer met ’n paar lekkernye en ’n goeie Afrikaanse-fliek,” het sy vertel. “Baie van die inwoners kry nie gereeld die geleentheid om uit te kom en buite die tehuis te sosialiseer nie en daarom is hierdie soort projekte baie belangrik.”