Local news

Gabi se sangtalent betower TV-kykers

Die Waterberge se nuwe sangsensasie, Gabrielle Swanepoel (23), of Gabi soos sy bekend staan, laat die inwoners van Modimolle en Mookgophong bars van trots.

Gabi neem tans deel aan die program Die Kontrak 2 se sangkompetisie wat elke Sondagaand op Afrikaans is Groot te siene is.

Sy het mense aan haar voete met haar ongelooflike stem en vertolkings van bekende en minder bekende liedjies.

“Sy is reeds onder die topvyf van die gewilde sangkompetisie en ons gaan nog baie van haar hoor,” het haar entoesiastiese tannie, Karin du Toit van Mookgophong, gesê.

Gabi het grootgeword in Mookgophong en het tuisonderrig ondergaan. Sy het haar hoërskoolloopbaan in 2017 aan Hoërskool Nylstroom voltooi. Ná skool was sy vir ’n jaar in Nederland waar sy au pair-werk gedoen het.

Die Pos het by Gabi, in haar tuisdorp, Modimolle, gaan kuier om die beeldskone sangeres beter te leer ken.

“Ek het op die ingewing van die oomblik my inskrywing gestuur en was verras en opgewonde toe die sangeres, Tarryn Lamb, my as een van haar ses finaliste gekies het,” het sy gesê.

Sy sing al lank, maar het eers op 16-jarige ouderdom begin skryf, sing en kitaar speel.

“Ek het lanklaas ’n liedjie geskryf, maar werk nou aan een. Ek het nog so baie om te leer. Wanneer iets skielik in my kop opduik, kan ek binne vyf minute ’n liedjie skryf,” het sy laggend vertel.

Sy het in die kerk begin sing en het nog nooit sanglesse gehad nie. Om lofprysing te doen is al wat haar doel is op die verhoog.

Gabi het ’n groot liefde vir Afrikaanse musiek ontwikkel tydens die kompetisie. Sy het nog nooit regtig baie na Afrikaans geluister nie, maar nou kan sy nie ophou nie.

“Die Kontrak het my lewe verander deur my blootstelling te gee en dit beteken baie, want ek het soveel mense ontmoet en soveel geleer,” het sy gesê

Dit is die eerste keer dat sy op so ’n groot verhoog sing. Verlede jaar het sy ook aan die “Begin Sing”-kompetisie deelgeneem.Sy was toe sewe maande swanger en het in die finaal geëindig.

“My ouers en my man, Zaco Swanepoel, inspireer my en sonder hulle ondersteuning sal ek dit nie kan doen nie,” het sy dankbaar gesê.

In die toekoms sien sy ’n gelukkige huwelik, haar pragtige seuntjie en baie avonture wat hulle saam sal aanpak. Een van haal doelwitte is om ’n orkes te hê en die hoogtepunt in haar sangloopbaan sal wees as sy eendag in Nashville kan optree en meer daar oor musiek kan leer.

Gabi het reeds ’n kontrak met ’n groot Suid Afrikaanse platemaatskappy geteken en die opname sal binnekort vrygestel word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button