Heldedag by konsentrasiekamp-kerkhof
Heldedag word jaarliks op 10 Oktober, oud-president Paul Kruger se verjaardag, gevier. In Modimolle word daar elke jaar op die Sondag naaste aan Heldedag ’n spesiale kranslegging en erediens by die konsentrasiekampkerkhof gehou.
Jaco Bogaards, voorsitter van die Afrikaner Erfenisstigting se Waterbergtak, het aan Die Pos vertel dat hy en sy vrou, Bess, al jare lank betrokke is by die jaarlikse kranslegging wat vanjaar op Sondag 9 Oktober gehou is. Daar word ook vooraf gereël om die kerkhof skoon te maak deur die gras te sny, oorgroeide grafte skoon te maak en die rommel binne en buite die kerkhof op te tel.
Bogaards het die sowat 50 mense wat aan die kranslegging deelgeneem het, toegespreek en verduidelik dat inwoners die nagedagtenis van hul voorvaders moet eer.
“Hulle voorbeeld en geskiedenis gee ons hoop vir ons toekoms, want selfs al verloor ’n mens alles, moet jy nooit gaan lê nie,” het hy gesê.
Twee leerders van die Waterbergskool vir Christelike Volkseie Onderwys (CVO) het die ou vlag van die republiek gehys waarna ander leerders ’n blommekrans by die ererol gelê het.
Afstammelinge van die families wat hier begrawe is, het blomme op die klipgrafte gelê.
Die gedenksteen by die rye klipgrafte, wat op 15 Desember 1942 onthul is, is die stille getuienis van die hartseer geskiedenis wat hier afgespeel het gedurende die Anglo-Boere oorlog.
Op die steen staan: Hier rus 544 vroue en kinders wat as slagoffers van die konsentrasiekamp, gedurende die oorlog van 1899 tot 1902, die lewe ingeskiet het…” Volgens die geskiedenisboeke was ongeveer 440 van die 544 mense wat hier gesterf het, kinders onder 15 jaar.
Die Nylstroom-konsentrasiekamp is in Mei 1901 opgerig op dieselfde perseel waar Laerskool Eenheid later jare gebou is. Die kamp het in die nege maande wat dit in gebruik was, bykans 1850 mense gehuisves. Volgens geskrifte was dit ’n uiters strawwe winter daardie jaar wat tesame met die uitbraak van ’n masels-epidemie in Augustus 1901 talle lewens geëis het. Baie mense het ook malaria en tifus onder lede gehad wat verder tot die hoë sterftes bygedra het. Die kamp is in Maart 1902 gesluit waarna die meeste van die inwoners na die groter konsentrasiekamp in Irene (Pretoria) verskuif is, hoewel sommige nog tot November in Nylstroom aangebly het.
Toeka se tyd het die boere geglo as die eerste reën ná pres. Paul Kruger se verjaardag val, kan hulle begin plant, want dit sal voorwaar ’n goeie reënseisoen wees.
Volgens oorlewering was Kruger ’n man van integriteit wat geen korrupsie, wetteloosheid of wanorde geduld het nie. Hy is in 1877 tot vise-president verkies waarna hy van 1883 tot 1900 as president van die republiek gedien het. Hy het destyds met oorgawe geveg vir Suid-Afrika se onafhanklikheid van die Britse oppergesag.
Ná die boere se nederlaag in die tweede Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) is Kruger na Switserland waar hy in Julie 1904 op 78-jarige ouderdom gesterf het.
Kruger se standvastige geloof en wysheid is alombekend. Hy het sy waardes en optrede op Bybelse beginsels geskoei en in alles die belang van die volk op die hart gedra. By sy vierde (en laaste) inhuldiging as president het hy die volk toegespreek en afgesluit met hierdie wyse woorde:
“Geregtigheid verhoog ’n volk — bid dag en nag en soek die wil van God.”