Local news

Bekende Bela-Bela-vulstasie genoop om te sluit

Een van die oudste en bekendste vulstasies in Bela-Bela, Mopani Exel in Potgieterstraat, het vandeesmaand sy deure amptelik gesluit.

André Sinosich, vulstasie-eienaar, het gesê dit het al hoe moeiliker geraak om die vulstasie met verouderde toerusting te bedryf. Die huurbedrag vir die perseel het volgens hom onhaalbaar geraak en bygedra tot die besluit om die vulstasie se deure te sluit.

Die vulstasie het in die 1980’s as ’n Caltex vulstasie handel gedryf en aan Leon van Jaarsveld, ’n voormalige skoolhoof van Hoërskool Warmbad, behoort. Van Jaarsveld het later afgetree en na George verhuis.

André en Christien Sinosich het die vulstasie in 2012 gekoop en as Mopani Exel bedryf. Wyle Wynand Booysen (snr.) was agt jaar lank die bestuurder voordat hy in 2021 aan Covid-19-komplikasies in Pretoria oorlede is.

Die grond waarop die vulstasie is — nie die vulstasie se sakebelang nie — is volgens Sinosich deur Century 21 aan Mohamed Dada van Dadbro Investments in Polokwane verkoop.

“Die Exel-vulstasies is ’n onderafdeling van Sasol en verskeie samesprekings is gevoer om die vulstasie op te gradeer. Dit het nie gerealiseer nie omdat die grondeienaar nie die nodige veranderinge wou aangebring nie en ook nie die sakebelang wou koop nie. Om ’n sakeonderneming se deure te sluit, gebeur nie sonder groot opoffering en hartseer nie. Ons het 11 werknemers wie se gesinne nou van ’n inkomste ontneem is juis in dié tyd waar werkloosheidsyfers so hoog is.”

“Ons wil elke kliënt weer eens bedank vir hul jarelange getroue ondersteuning.”

Die vulstasie is reeds ontruim.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button