Omskep vullis in iets waardevols
Die Pos berig al jare lank oor onwettige vullisstorting in ons omgewing.

Die afgelope week het nuwe klagtes ingestroom oor die toestand van die Reitzstraatpark in Bela-Bela.
Die park word as sorteringsplek vir herwinbare vullis en selfs vir huishoudelike vullis gebruik. Die reuk van verrotte materiaal is verstikkend by die parkie se ingang in Pretoriaweg, waar vullis wat onwettig gestort is, ophoop.
Die herwinnaars wat weekliks deur sakke grawe om herwinbare materiaal bymekaar te maak, is ’n bekende gesig in die dorp. Dit wil voorkom of hierdie mense die park en ander openbare plekke gebruik om vullis te sorteer en dan die nie-herwinbare vullis agterlaat.
Peter Moloto, munisipale woordvoerder, sê daar is munisipale verordeninge wat bepaal dat mense beboet kan word weens onwettige vullisstorting. Daar moet egter klinkklare bewyse wees wanneer klagtes geopen word.
“Die wyse om onwettige vullishope te rapporteer bly eenvoudig: inwoners kan dit aan hul wykkomiteelid rapporteer of direk aan die munisipaliteit. Die raadslid gee dit deur aan die betrokke afdeling wat werkers uitstuur en opruim. Inwoners kan ook onwettige vullishope deur ons nuutste toep — Let’s Talk Gov — aanmeld,” sê Moloto.
“Selfdoen- en herwinningsaksies moet egter deel van ’n leefwyse word om ons omgewing in ’n vullisvrye-gebied te omskep.”
Marnus Luüs, eienaar van ’n plaaslike herwinningsentrum, sê mense onderskat die waarde van herwinbare materiaal wat daagliks in vullissakke beland.
“My doel is om vullis wat waardeloos is (dit wat nie herwin kan word nie) waarde te gee. Die munisipaliteit doen hul deel deur inwoners se vullis weekliks weg te ry na die munisipale stortingsterrein, maar daar hoop dit net op en word met grond toegegooi wat geensins innoverend is of enige positiewe impak op die omgewing het nie,” sê Luüs.
“Daar is lankal tegnologie beskikbaar om nie-herwinbare vullis in energie te omskep. Dit kan verbrand word en die hitte in krag omgeskakel word.
Dit is egter ’n duur projek, want lugfiltreringsinfrastruktuur moet ingerig word om lugbesoedeling te voorkom. Dit bly ’n droom en kan tot voordeel van ons omgewing wees as dit realiseer.”
Luüs sê hy is bereid om van sy personeel beskikbaar te stel om onwettige vullishope in die dorpsgebied te verwyder.
Hy is beskikbaar by tel. 066 292 6806. Die munisipaliteit kan by die (014) 736 8000-nommer geskakel word, of gebruik die nuwe toepassing, Let’s Talk Gov(.)