Staking: Wat gebeur hier by ons?
Die hutsmerk #nationalshutdown was vandeesweek oral op sosiale media te sien met onsekerheid by inwoners wat om presies op Maandag 20 Maart te verwag. Sal dit ’n staking wees wat vroegoggend uitrafel of burgerlike onrus saai soos wat in 2021 in KwaZulu-Natal uitgebreek het?

Die EFF het die bal aan die rol gesit vir ’n landwye staking om hul griewe te lug teen beurtkrag en om die bedanking van pres. Cyril Ramaphosa te eis. Organisasies soos die Suid-Afrikaanse Federasie vir Unies (Saftu) het aangedui dat hulle sal deelneem aan die staking. Suid-Afrika se grootste vakbond, Cosatu, het tot dusver nog nie aangedui of hulle gaan deelneem nie.
Die EFF het ondernemings gewaarsku om hul deure die dag gesluit te hou.
Verskeie veiligheidsinstansies is van mening dat die staking tot hoofstede beperk sal wees, maar waarsku inwoners om liefs eerder groot sentrums en regeringsgeboue te vermy. Hulle het mense aangeraai om nie opruiende boodskappe op sosiale media te versprei of om emosioneel op die staking te reageer nie.
Op die tuisfront het die EFF plakkate om die staking te adverteer op lamppale aangebring en briewe is aan ondernemings uitgedeel.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het sakelui wat sulke briewe ontvang het, aangeraai om ’n eedsverklaring af te lê of ’n boekinskrywing by die polisie te maak sodat dit amptelik op rekord is en die polisie bewus is van die dreigemente.
James van Zyl, voorsitter van die AfriForum-tak in Modimolle, het gesê hul buurtwag en veiligheidsmaatskappye kommunikeer hieroor.
“Ons hoop dit sal rustig in ons dorpe wees. Ons sal inwoners ingelig hou en gebeurlikheidsplanne via sosiale media uitstuur wanneer dit nodig is,” het hy gesê.
AO. Pieter Booyse van die Modimolle-polisie het bevestig dat die polisie ’n gebeurlikheidsplan in plek het.
Teen Woensdagoggend 15 Maart het lede van die plaaslike taxi-vereniging aangedui dat daar nog geen amptelike reëlings aan hulle deurgegee is nie.
Die EFF het beoog om weer op Woensdag 15 Maart, te vergader.