VLU-vroue hou kongres en kuier saam
Altesaam 112 lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Soetdoringstreek het Saterdag 18 Maart by Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela byeengekom vir hul jaarlikse kongres.

Die kongres is vanjaar deur die lede van die Warmbadtak aangebied. Die vroue het vroegoggend in die pragversierde saal saamgetrek waarna Joan Erasmus van die Potgietersrustak met skriflesing en gebed die verrigtinge geopen het. Vanjaar se tema Positiewe denke skep ’n mooi wêreld was onder die vergrootglas.


Die kongresgangers kon saam kyk na ’n kosdemonstrasie wat deur Eskort aangebied is. ’n Varklies (pork belly) is in ’n lugbraaier gaargemaak en die vroue kon ook kyk hoe om ’n keurige charcuterie bord (wat bestaan uit verskillende koue vleise, heerlike kase, patees, beskuitjies en vrugte) uitgepak word. Terwyl daar ná die tyd geproe is, het die vroue ’n nuttige koelhouer met ’n vleisversnaperingspak as geskenk ontvang.

Tydens die prysuitdeling het die Naboomspruittak weggestap as wenner van die taktrofee. Die voorsitter van dié tak, Wendy Engelbrecht, is aangewys as die lid met die meeste punte op die konferensie.
Lede wat vyf, tien en 20 jaar se lidmaatskap geniet, het balkies ontvang. Van die vroue se pragtige handwerk is ook uitgestal en beoordeel.


