Local news

Groot boom val ná lang kankerstryd

’n Steunpilaar in die Modimolle-gemeenskap is die afgelope week ter ruste gelê.

Johan Human (76) is tydens ’n besoek aan sy kinders in George oorlede. Sy gedenkdiens is op Saterdag 13 Mei in die NG Kerk Waterberg-gemeente in Modimolle gehou.

“Ons harte is baie seer, maar ons is so dankbaar dat hy nog tyd saam met sy seun, Danie, skoondogter, Marelise, en die drie kleinseuns kon deurbring,” het sy vrou, Erna, gesê.

Die egpaar se huis in Modimolle is in die mark en hulle het na aftreeoorde gaan kyk sodat hulle naby hul kinders kon woon. Die gesin het ’n strandhuis in die nabygeleë Rheebok gehad en het jaarliks daar gaan vakansie hou.

Die gesin sien sy lewe as ’n groot genade. Erna vertel van die dekades wat hulle “bygekry” het nadat hy reeds in 1981 met aggressiewe kanker gediagnoseer is.

“Ek was swanger met Danie en ons was deur diep waters nadat die dokters gemeen het Johan sal nie leef om sy seun te sien grootword nie. Kyk net hoeveel jare het hy nog geleef en hoeveel mense kon hy in daardie tyd help.”

Human het die afgelope paar jaar weer ’n pad met kanker gestap en het hartprobleme ondervind.

Nadat hy as jong man sy B.Com-graad verwerf het, het hy by die Sandton-stadsraad gewerk. Die gesin het na die destydse Nylstroom toe verhuis om boer en Human het ook by NTK gewerk.

Hy het saam met twee vriende Optimum Makelaars begin. Vleissentraal het by hulle aangesluit en ’n paar jaar later het Optimum Makelaars ingeskakel by PSG.

Sy seun, Danie, het by PSG by sy pa aangesluit.

Human het sy gemeenskap gedien en was vroeër raadslid en bestuurslid van die Nylstroom- sakekamer.

Hy was op Laerskool en Hoërskool Nylstroom se beheerliggame. Hy het vir baie jare op die bestuur van die Abraham Kriel-kinderhuis gedien.

William van Coller, oud-skoolhoof van Hoërskool Nylstroom, het tydens sy gedenkdiens gesê Human was as Christen vir hom ’n rolmodel.

Hy het sy oortuiging tot die dag van sy dood uitgeleef.

Human laat Erna, Danie, Marelise en sy kleinseuns Finley, Rupert en Ernan agter. Sy ander seun, Louis, is in 2019 oorlede nadat hy ook met kanker gediagnoseer is.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button