Skatkis vol ‘onthou’ word oopgesluit
Leerders en personeel van Laerskool Warmbad in Bela-Bela het op Woensdagoggend 25 Oktober met groot afwagting gekyk hoe ’n 20 jaaroue skatkis oopgesluit word.
Die trommel is al die jare in ’n kluis bewaar en vandeesweek oopgesluit as deel van die skool se 120ste verjaardagvieringe.
Die trommel is deur Louis Fourie, oud-adjunkhoof van die skool, oopgemaak. Hy was daar toe dit jare gelede verpak is. Saam met hom op die verhoog in die skoolsaal was vier van die personeellede wat vandag nog deel is van die skool se personeelkorps.
Daar is ge-oe en ge-a en grootoog gekyk toe die trommel se inhoud uitgepak en vir die leerders gewys is. Daar was ’n bottel wyn wat destyds spesiaal vir die skool se eeufeesviering gebottel en verpak is, asook lappoppe, trompoppieklere, ’n skooldagboek en talle foto’s en albums.
Die leerders kon vooraf na ’n vertoning van foto’s kyk waarin daar vir hulle gewys en verduidelik is hoe die skool, sy leerders en personeel destyds daaruit gesien het. Skoolhoof Theron Brand het ook kortliks oor die belangrikheid van tradisie gesels.