Karoi Lodge staan op ná verwoestende brand
Dit is byna drie maande nadat die bekende Karoi-gasteplaas buite Mookgophong, se lieflike jagkamp deur vlamme verswelg is. Daar is egter reeds begin om die kamp te herbou tot die pragtige plek van weleer.

Mariska Cloete, wat saam met Data Strydom die plaas bestuur, is opgewonde oor hoe die bouery vorder en hoe die eindproduk gaan lyk.
“We are very excited about the “new” Karoi Lodge and we trust you will share our enthusiasm,” het Cloete gesê.

Die kombuis en eetkamer van die hoofkamp se bouwerk is al voltooi en net die finale afrondings moet nog gedoen word. Die kamp se akkommodasie het, voordat dit gebrand het, bestaan uit tien rondawels maar dit gaan nie herbou word nie. In die plek van die rondawels word vyf nuwe, luukse tente opgerig. Die bestuur het ook besluit om ’n groot gemeenskaplike gesinskamer in te rig.
Daar sal nou net twintig gaste kan oorslaap.
“Dit gaan nou meer intiem wees as die vorige kamp en nie meer so kommersieel soos in die verlede nie,” het Cloete gesê.
Die beplanning is om teen einde Februarie alles voltooi te hê.
Die brand het ontstaan by ’n plaas wat aan Modimolle Community Trust behoort en het vinnig versprei na Serendipity, aangrensend aan Karoi-gasteplaas. Dit was maandeinde en die plaaswerkers was af vir die naweek. Die gebrek aan hulpbronne het veroorsaak dat die vlamme nie geblus kon word nie. Die sterk wind het die vuur aangedryf en die jagkamp kon nie gered word nie.
Boere het al verskeie kere die relevante owerhede versoek om toe te sien dat die nodige brandpaaie en voorbrande gemaak en onderhou word op grond wat in staatsbesit is en wat deur die brandbestrydingswet vereis word.