Local news

Mookgophong-gemeente groet leraar

Die Bron, AGS gemeente in Mookgophong het op 1 Desember 2020 pastoor Quintin Kellerman en sy gesin by die gemeente verwelkom en na drie jaar groet hulle nou die geliefde egpaar wat na Middelburg in Mpumalanga verhuis.

Die Kellerman-egpaar begin ‘n nie-winsgewende maatskappy genaamd Providence wat gemeenskappe wat gevange gehou is deur sistemiese armoede sal help en ondersteun. Providence sal betrokke wees by verskeie projekte, maar die hooffokus vir die komende tydperk is die stigting van ‘n aanleg vir die vervaardiging van sanitêre doekies. Hulle loods ook ‘n projek om mense van die straat af te hou en te bemagtig.

Die egpaar gaan saam met Alethe Winckler ook ‘n projek begin om kinders vanaf gr. 7 by te staan om eendag as volwassenes, sinvolle beroepe en werke te kry. Hulle gaan ook inskakel by die Corpus Christi gemeente in Middelburg as predikantspaar.

Past. Quinton sê ‘n ongelooflike seisoen word in Mookgophong (Naboomspruit) en by Die Bron gemeente afgesluit. “Dit was ‘n tyd van vreugde en pret, waar ons kinders die voorreg gehad het om regtig as kinders te lewe. Naboomspruit is ‘n weggesteekte juweel, een van die Kellerman-familie se beste ervarings. Hier woon kwaliteitsmense met harte vol begeerte vir verandering.

“As ‘n gesin wil ons graag vir Naboomspruit se mense bedank vir ‘n wonderlike drie jaar in die gemeenskap. Dit was nie net ‘n huis nie, maar ‘n dorp met fantastiese en wonderlike mense wat altyd ‘n deel van ons lewens sal wees,” het past. Quinton gesê.

Nadat Quintin in 1997 by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het, het hy gaan studeer en in 2006`n honeursgraad in Teologie aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag bekend as die Universiteit van Johannesburg) verwerf.Terwyl hy studeer het, het hy in 2005 by Hoërskool Noordheuwel, in Krugersdorp skoolgehou en was ook Jeugpastoor by die AGS Vitaliteit in Krugersdorp, Mogale City.

Die gemeente in Middelbug in Mpumalanga beroep hom daarna as Jeugpastoor en daar het hy ook sy vrou Amoré ontmoet . Die egpaar se drie kinders, Annecke , Zoené en Jonathan, is daar gebore. Hulle was vir sewe jaar in Middelburg en Quintin was ondermeer betrokke by die Puma Cravenweek rugbyspan vir twee jaar. Die gesin was daarna vir agt maande in Mbombela (Nelspruit) voordat hulle vir sewe jaar in Kimberley in die Noord-kaap gebly het. Hulle jongste spruit Q-Jay is in Kimberley gebore.

“Die Kellermans het ‘n verskil gemaak en ons harte is seer om hulle te sien vertrek,” het een van die gemeentelede gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button