Bulle kom Bosveld toe!
Die Waterberg se inwoners kry die kans om volgende week groot rugby op eie bodem te geniet.
’n Professionele rugbywedstryd word vir die eerste keer in Modimolle aangebied wanneer die Vodacom Bulls XV in ’n opwarm wedstryd teen die Valke op Vrydagaand, 16 Februarie te staan kom op die rugbyveld van Hoërskool Nylstroom.
Die manne wat op die veld gaan uitdraf vir die Blou Bulle word gekies uit die professionele spelers van die oefengroep wat moontlik die kern van die Currie Cup-span later in die seisoen sal vorm, het Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie gesê.
“Dit is die eerste keer dat so ’n groot wedstryd in die omgewing gespeel word en ons hoop dat ons die mooi stadion van die hoërskool kan vol maak. As ons dit kan regkry, kan ons in die toekoms wéér sulke wedstryde hier speel,” het hy gesê.
Plaaslike rugbyspelers van die Nylstroom-rugbyklub maak hulself reg vir ’n uitdagende voorwedstryd teen die Naka Bulle-vyftiental.
Jannie Venter, die afrigter van die Nylstroom-rugbyklub, het tesame met die Blou Bulle-bestuur die bal aan die rol gesit om die Bulle Bosveld toe te bring.
“Hierdie geleentheid is goed vir rugby-ontwikkeling en vir die dorp.”
Venter, wat self vir die polisie en klubrugby gespeel het, rig jarelank reeds skole-, klub- en provinsiale spanne af. Onder sy leiding het Hoërskool Nylstroom se eerstespan in 2010 as wenner van die Beeld-trofee weggestap.
Bekende name, veral onder die opkomende spelers word verwag. Volgens Strauss word die span eers op Maandag, 12 Februarie, bekend gemaak.
Spelers wat moontlik by die vyftiental ingesluit kan word, is Jannes Kirsten, wat waarskynlik terug sal wees na sy besering, Henry Immelman, Stravino Jacobs, Nizaam Carr en WJ Steenkamp.
Bulls-direkteur en voormalige Springbok-afrigter Jake White, asook ander topbestuurslede van die klub, sal die dag bywoon.
Volgens JP Immelman, afrigter van die OosRandse Valke het die span ’n goeie seisoen agter die blad nadat hulle in die Mzansi Challenge en Curriebeker eerste divisie se finaal gespeel het. Hulle het die Mzansi-beker huis toe gevat.
Dit was hul eerste silwerware in 17 jaar en hulle wil graag die trofeekas nou vol maak.
“Die wedstryd teen die Blou Bulle XV is ons tweede wedstryd ter voorbereiding van die nuwe en opwindende SA Beker-kompetisie en die manne van die OosRand is opgewonde om hulself te meet teen hul provinsiale buurman,” het hy gesê.
Die Valke se eerste amptelike wedstryd van die seisoen is teen die Oostelike Provinsie in Gqeberha (Port Elizabeth) op Saterdag, 23 Maart wanneer die SA Beker afskop. Die spelers wat dopgehou kan word, is Andrew Volschenk, Mihlali Stamper, Luciano Elias, Keagan Fortune en Musa Tshabalala. Die Valke hoop dat die jong slot, Eddie Evans betyds van sy besering sal herstel om beskikbaar te wees vir die wedstryd.
Wat die Bulle betref loop rugbykoors hoog onder hul ondersteuners.
“Die Blou Bulle het massiewe ondersteuning in Limpopo en die wins wat uit die wedstryd gemaak word, word gedeel tussen die Nylstroom-rugbyklub en die skool. Dit sal aangewend word vir die verdere ontwikkeling van die sport,” het Strauss gesê.
“Die Vodacom Bulls vaar tans baie goed in die United Rugby Championship (URC) en die diepte van ons groep sal getoets word in ons wedstryd teen die Valke in Modimolle,” meen Strauss.
Hoërskool Nylstroom spog met ’n indrukwekkende stadion wat volgens die skool se bemarker, Wandi Botes, gemaklik vir 8 000 toeskouers sitplek bied.
Die toegangsfooi is R20 per volwassene en R10 vir skoliere. Kaartjies is beskikbaar by Hoërskool Nylstroom, sowel as by die hekke. Die hekke open om 15:00 met die voorwedstryd wat om 16:30 afskop.
Die Blou Bulle XV en die Valke pak mekaar om 18:30.