Gesoek: Terapiehonde vir bejaardes
’n Mens se beste vriend kan ongelukkig nie altyd saam aftreeoord toe nie, hoewel die geliefde viervoetiges steeds ’n groot bydrae kan lewer vir inwoners.
Denise Prinsloo van die Kokanje-aftreeoord in Modimolle is op soek na vrywilligers om deel te wees van ’n terapiehond-groep wat inwoners van die oord se versorgingseenheid op ’n weeklikse basis saam met Wagter, Worsie en Vlekkie sal besoek.
“In baie gevalle was die inwoners hul lewe lank diereliefhebbers, maar het nou geen toegang tot troeteldiere nie. ’n Mens kan dit verstaan, want dit is duur om na ’n troeteldier om te sien en hul eie kragte neem af. Ek wil egter graag die geleentheid skep dat bejaarde en verswakte inwoners, wat meestal tot hul kamers beperk is, die kans het om weer tyd saam met ’n hond te spandeer,” het Prinsloo gesê.
Verskeie studies staaf Prinsloo se planne: navorsers het gevind dat bejaardes wat tyd saam met besoekende terapiehonde (en ander diere) spandeer, beter kommunikeer, rustiger en minder angstig is, hul bloeddruk laer is en hul selfbeeld ook verbeter. Baie verswakte bejaardes kommunikeer moeilik, maar hondeliefhebbers weet dat Wagter nie veel woorde nodig het om jou te verstaan en te vertroos nie.
Wêreldwyd is daar organisasies betrokke om terapiedienste aan kinders, gestremdes, gehospitaliseerdes en bejaardes met die hulp van troeteldiere te verskaf.
Prinsloo het Pets as Therapy (PAT) genader wat, benewens hul takke in Kaapstad, George en Durban, ook een in Polokwane het. Die organisasie bestuur en lei vrywilligers op wat gereelde besoeke saam met hul honde aflê waar nodig is.
Die vereistes vir honde om deel te neem aan die projek is dat hulle kalm van geaardheid moet wees, tussen 18 maande en 10 jaar oud moet wees en ten minste reeds ses maande lank by die vrywilligers moet woon. Die honde moet van sosiale interaksie hou en moet behandel wees teen interne en eksterne parasiete. Alle inentings moet op datum wees.
’n Verteenwoordiger van PAT sal die honde kom evalueer en leiding gee oor hoe die besoeke moet geskied. Prinsloo sal as die plaaslike koördineerder optree.
Die versorgingseenheid by Kokanje-aftreeoord het meer as 40 inwoners wat óf verswak is óf aan demensie ly. Dit is hierdie groep mense wat Prinsloo graag wil bereik met die terapie.
“Ons wil graag dat besoeke een keer ’n week plaasvind en dat vrywilligers mekaar kan aflos,” sê sy. “Die inwoners is meestal beperk tot hul kamers en ’n vriendelike besoek deur ’n vrywilliger met ‘n hond sal welkome afleiding wees.”
Die oord het toestemming gegee dat ’n loodsprojek vir ses maande gedoen kan word.
Belangstellendes kan Prinsloo skakel by tel. 082 968 9402 vir meer inligting.