Local newsMunicipalNews

Wyk 5 se komiteelede bring hulle kant

Die Wyk 5-lede van die wykskomitee in Mookgophong, wat uit tien lede bestaan en onder die voorsitterskap van die raadslid, Marita Louw, staan, het ingespring en hard gewerk om die dorp te verbeter.

Wykskomitees vergader maandeliks en bespreek probleme wat in die wyk voorkom en soek werkbare oplossings. Beplanning vir groter projekte word ook deur die komitee van stapel gestuur. Lede van die wykskomitee word nie aan ’n politieke party gekoppel nie.

“Sonder so ’n gedugte span sal my werk om die gemeenskap te dien soveel moeiliker gewees het. Wyk 5 se wykskomitee oortref hulself en praat nie net nie, maar spring elke dag aan die werk. Dankie aan elkeen op die komitee,” het Marita Louw, verkose Vryheidsfront Plus wyksraadslid gesê.

Rinda van Aswegen is nie net die sekretaresse nie, maar luister ook na klagtes van inwoners sodat dit aan die regte persone gerapporteer kan word. Dina Semenya is betrokke by plaaslike ontwikkeling en behartig ook toerisme in die dorp. Talita Mamogobo besoek skole en skakel met die departement van onderwys oor relevante sake.

Vir die beheer en inspeksie van stormwater, paaie en vervoer, is Ben van Aswegen aan die stuur en is al bekend waar hy die stopstrate verf en die slaggate vul met behulp van die gemeenskap en AfriForum se fondse.

Johan Koch is verantwoordelik vir die opknapping en skoonmaak van die parke en spesiale projekte en Dougie Douglas is portefeuljelid vir elektrisiteit. Johan van Aswegen verteenwoordig Wyk 5 se inwoners as komiteelid by die gemeenskap-gesondheidskomitee en dit sluit beide die klinieke in die dorp in.

Die lid belas met behuising, rampe in die omgewing en onwettige bouery is Sello Nkhanyamane. Cecelia Bredenhann, is betrokke by die skoonmaak van die dorp en maak gereeld die hoofstraat, polisiestasie en Ons Plek skoon. Sy volg dan elke straat op om hulp te verleen waar dit nodig sou wees.

Andre van der Schyff monitor die watervlakke en doen inspeksie by die boorgate en is ook die komiteelid vir sanitasie. Hy laat ook jaarliks watertoetse, monitering van rioolaanleg, inspeksies van die stortingsterrein, en verskeie instandhoudingsprojekte in Mookgophong doen.

“Hierdie pro-aktiewe benadering tot waterveiligheid en algehele instandhouding van die dorp is prysenswaardig. Gereelde watertoetse, veral van rioolbehandelde water, is noodsaaklik om die veiligheid van die publiek se drinkwater te verseker,” het Louw gesê.

Chris Theron is gekoöpteer op die komitee en help as raadgewende ingenieur met die watervoorsiening en munisipale dienste.

“Ons droom is om ’n netjiese dorp te hê waarop almal trots kan wees. Ons werk ook hard om almal te motiveer om rondom hulle netjies en skoon te hou,” het Louw gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button