Mookgophong-inwoners kan hiér stem
Die algemene verkiesing wat op Woensdag, 29 Mei gehou gaan word kruip nader en politieke partye in Mookgophong is bedrywig om hulle kiesers te bearbei en van inligting te voorsien sodat die verkiesing glad kan verloop.

Sedert 1994 is hierdie die sewende verkiesing van nasionale en provinsiale leiers.
Volgens die onderskeie politieke partye in die Mookgophong-omgewing het die registrasie van kiesers baie goed verloop en is daar baie aanlyn registrasies gedoen.
”Kiesers moet egter onthou dat hulle slegs kan stem waar hulle geregistreer is en indien hulle verhuis het, kan hulle aansoek doen vir ‘E. Section 24 of the Electoral Act 73 of 1998’ -aansoekvorm wat hulle in staat sal stel om te stem,” het Marita Louw Vryheidsfront Plus (VF Plus) Wyksraadslid van Wyk 5 gesê.
Die onafhanklike verkiesings kommissie (OVK) se kantore sal oop wees vir hierdie aansoeke of dit kan ook aanlyn gedoen word op hulle webwerf.
Die aansoekvorms vir die uitbring van spesiale stemme is ook beskikbaar by die OVK-kantore in die dorp of aanlyn en die politieke partye kan ook van hulp wees.
Vir Mookgophong en omgewing is daar stempunte in wyk 4, 5 9,10 en 14.