Sjarmante Charming bedien gemeenskap met passie
In die Bela-Bela-gemeenskap is daar ’n vrou wat haar naam gestand doen. Sy sprei haar sjarme oor die inwoners van die dorp.

Die Pos het ’n besoek aan Charmaine Charming, bekend as Charming in die gemeenskap, gebring om oor haar betrokkenheid en aktiwiteite in die Bela-Bela-gemeenskap te gesels. Charming het in 2013 van Heidelberg na Bela-Bela verhuis en het sedertdien ’n merkbare impak op die inwoners se wel en wee gehad. Sy het die digitale voetspoor van die gemeenskap vergroot.
Charming het haar digitale teenwoordigheid deur die administrasie van 38 Facebook-groepe en 11 Whatsapp-groepe verstewig. Sy het betrokke geraak by die gemeenskap na ’n reeks lewensveranderende gebeure, insluitend ’n brand en vloede wat haar inkomste en heenkome geraak het.
Sy het tydens die Covid-19-pandemie die sprong gemaak en haar eie hondesalon, Shampooch, geopen. Sy het aan Die Pos gesê dat die welstand van diere en mense haar baie na aan die hart lê.
Die kernbeginsel van Charming se betrokkenheid is om die gemeenskap ingelig te hou en te ondersteun. Sy het WhatsApp- en Facebook-groepe begin om die gemeenskap op hoogte van sake te hou en belangrike inligting by die druk van ’n knoppie vir inwoners beskikbaar te stel. Sy help ook graag in noodsituasies en het baie inwoners al van raad bedien in krisistye.
Hierdie inisiatiewe het gelei tot die ontstaan van die Inligting en Hulp Warmbad WhatsApp-groep, waarin mense dikwels met haar kontak maak om hulp te soek, selfs met die opsporing van vermiste persone en troeteldiere.
Charming het nie net digitale betrokkenheid nie, maar is ook aktief in die gemeenskap deur kospakkies vir die behoeftiges saam te stel. Sy droom daarvan om ’n stuk grond te bekom waar sy ’n heenkome vir mammas en kinders wat ontwrig is, kan vestig. Hulle moet onafhanklik word en daar moet genoeg spasie wees waar hul hul eie groente en vrugte kan kweek.
Charming deel haar motivering en sê: “Mense en diere is absoluut my passie, en ek sal aanhou veg vir hulle.”
Sy streef daarna om ’n positiewe verskil in die lewens van die gemeenskap te maak deur hulp en inligting te bied, terwyl sy ook ’n droom najaag wat ’n positiewe impak op behoeftige individue se toekoms kan hê.