Vrou veg verbete toe twee honde haar gryp
’n Vrou van Modimolle het twee operasies ondergaan nadat sy deur twee honde aangeval is terwyl sy gaan stap het.

Louise Cawood (53) is laat Donderdagmiddag, 18 April, deur twee honde gegryp terwyl sy in Boshoffstraat gestap het. ’n Verkeersman van die provinsiale verkeersafdeling het die gebeure sien afspeel en kon vinnig tot haar redding kom. Cawood is volgens haar ma, Anna Cawood, sleg aan haar kop, oor en aan haar been gebyt.

“Louise het ons vertel dat sy net die heeltyd vir haar gesig gekeer het toe die hond haar aan die onderkaak gryp,” het haar ma gesê.
Paramedici en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was vinnig op die toneel en sy is per ambulans na die FH Odendaal-hospitaal geneem.
Sy is vandaar af na die Wilgers Hospitaal in Pretoria waar sy geopereer is. Cawood is Sondag ontslaan en sterk by haar ouers aan wat onlangs na die ooste van Pretoria verhuis het.
“Louise het pas verhuis en wou ontspan nadat sy heeldag uitgepak het. Sy is so straatblok van haar huis af aangeval.”
Volgens haar ma ontvang Cawood net ’n Sassa-toelaag en betaal familielede die hospitaalkostes.

Glen Mokoatlo van die provinsiale verkeersdepartement, vertel dat hy op pad terug van patrollie in Bela-Bela was en in Boshoffstraat af gery het.
“Ek het die vrou sien stap en die twee honde wat by die hek uitkom en agter haar aan hardloop. Ek het aanvanklik gedink hulle is saam met haar, tot ek gesien het hoe hulle haar gryp,” het hy gesê. “Dit was twee groot honde wat baie soos pitbulls gelyk het. Die een was swart en die ander een swart-en-wit. Ek het geskrik toe ek sien hoe een hond haar aan die been gryp en die ander een haar aan die gesig byt. Ek was bang vir die honde, maar daar was niks anders wat ek kon doen nie – ek het tot by haar gery en my voertuig se sirene aangesit. Die geraas het die honde laat skrik en toe hulle haar los, het ek het hulle terug in hul erf ingejaag,” het Mokoatlo vertel.
Hy het onmiddellik hulp en ’n ambulans ontbied.
“Die bytplekke het sleg gelyk en sy het baie gebloei.”
Volgens die Modimolle-polisie is daar nie ’n klag teen die eienaar van die honde gelê nie.
Die eienaar van die huis sê dat sy ten tyde van die voorval in Pretoria was. Sy wil anoniem bly.
“’n Vriend van my kyk na my huis. Hy het gesê dat hy die honde van die vrou afgehaal het en in die erf ingevat het.”
Volgens haar is die twee groot honde kruisrasse en die pitbull wat sy het, is slegs drie maande oud.
“Ek kan nie dink dat hy betrokke was nie, hy is nog klein. Een van die ander honde is nog halfblind ook,” het sy by navraag gesê. “Ons het bykomende heinings nou aangebring sodat die honde nie by die voorste deel van die erf kan uitkom en uithardloop as die motorhek oopgaan nie.”