Medikus reg om lewens te red

“Bel vir Wim!” is die woorde wat telkens tydens noodgevalle in Modimolle opklink.

Wim Wagner, ’n medikus wat sedert 2019 in die dorp woon, verskyn binne minute met sy noodhulpsak oor sy skouer en spring in om bloeding te stop, kardiopulmonêre resussitasie (KPR) te begin of gebreekte bene te spalk.

Hy vul die groot gaping wat die tekort aan beskikbare dokters en goeie mediese hulp in die omgewing tot gevolg het. Tydens noodgevalle gebeur dit dikwels dat die ambulanse reeds uit is op noodgevalle of daar nie ’n dokter beskikbaar is nie.

Wagner se loopbaan het hom op interessante paaie geneem. Hy het 12 jaar in die buiteland gewerk in lande soos die Kongo, Somalië en Sudan as deel van reddingspanne asook in België, Nederland en Duitsland waar hy opleiding gegee het.

“Ek het begin as paramedikus, maar ek het gesukkel om so lank te sit en wag tussen noodroepe. Só het ek betrokke geraak as gemeenskap-skakelpersoon in die veld. Dit het soms wild geraak.” Hy lag droog. “Ons het tyd in ’n hele paar Afrikalande se tronke spandeer as gevolg van probleme met papierwerk. Dan moes ons maar wag dat die ambassade hulle oortuig om ons vry te laat.”

Tydens een só projek het Wagner besluit dit is tyd om dié tipe werk vaarwel te roep.

“Op ’n dag staan ons saam met net vyf Ethiopiese soldate tussen ’n groot groep militia in Somalië. Al hul gewere is op ons gerig en ek het besef my seuntjie is nou eers drie maande oud en ek wil nie in iemand anders se oorlog sterf nie.”

Hy het met sy terugkoms ’n internasionaal erkende gesondheid en –veiligheidskursus aangepak en was betrokke by infrastruktuur-ontwikkeling vir die departement van gesondheid.

Om só ’n uitdagende beroep aan te pak, moet dit ’n passie wees. Wagner vertel dat hy in st.3 (nou gr. 5) ’n noodhulpkursus gedoen het en dit het sy belangstelling in die veld geprikkel.

“Ek het as kind baie erge asma gehad en het baie tyd in die hospitaal spandeer. Dit het my verdere blootstelling aan die mediese veld gegee.”

Hy het in st. 8 (nou gr. 10) as vrywilliger by die brandweer begin werk en ná skool opleiding in mediese noodsorg gekry. Wagner het ook ’n tyd lank vir ambulansdienste in die Centurion, Johannesburg en Midrand-gebiede gewerk.

Wagner en sy gesin het in 2019 Centurion vir Modimolle verruil, kort voordat die Covid 19-pandemie uitgebreek het. Hy het gou bekend geraak onder inwoners omdat hy huise waar mense suurstof tekorte gehad het besoek, wanneer niemand anders wou nie. Hy sê dat hy nie een keer Covid-19 opgedoen het nie.

“My onderneming, Mjini, het sy ontstaan in dié tyd gehad. ’n Vrou uit die Oos-Kaap het my geskakel omdat haar pa in Modimolle baie siek was en nie asem kon kry nie. Ons kon suurstof toedien en die oom het oorleef. Hy is vanjaar reeds 87 jaar oud.” Mjini beteken suurstof. “As ons in daardie tyd meer suurstof beskikbaar gehad het, sou minder mense gesterf het.”

Wagner glo ook vas in die alternatiewe en natuurlike gesondheidsprodukte wat hy verkoop.

“Vir baie jare lank het ek elke vier weke ’n asmapompie klaar gebruik. Danksy die regte natuurlike behandeling, het ek die afgelope drie jaar net twee pompies gebruik.”

Talle van die mense wat by hom om hulp kom aanklop, kan nie ander mediese sorg bekostig nie.

“My werk is vir my ’n hartsaak. Van die ouer mense kan net hul medies bekostig, maar niks anders as wat dit dek nie. Van hulle het geen medies nie.”

Daarin is egter ook ’n uitdaging. Hy help talle kere sonder betaling. Meeste van die ongelukstonele wat Wagner bywoon, is teen geen betaling nie en ambulanse wat opdaag sonder die nodige toerusting, gebruik syne, want ’n lewe is dikwels op die spel. Hy raak ongemaklik as ’n mens hieroor gesels.

“Ons noodpersoneel is net ’n stukkie gereedskap in God se hand. Ek glo daarin om die beste stuk gereedskap te wees wat ek moontlik kan.”

Of dit op ’n bakkie se agterklap, kombuiskas of ’n teerpad is, medikus Wim Wagner leef sy passie uit om mense in nood te help.


Wim se raad aan inwoners:

Exit mobile version