Editor's choiceLocal LifestyleLocal news

Jacobse roep Pontenilo vaarwel toe

Na bykans drie dekades as melkboere op die geskiedkundige plaas Pontenilo, groet Pierre en Janet Jacobs die Waterberg. Dit het tyd geword om af te tree.

Die egpaar, nou in hul sewentigs, het die plaas 28 jaar gelede gekoop.

“Ek het vir sowat 23 jaar by die koöperasie gewerk en wou graag iets anders aanpak. Ek en ons drie seuns het gedink dat boerdery vir ons ’n goeie langtermynplan sou wees,” het Jacobs gesê.

Die plaas is tussen Modimolle en Bela-Bela geleë.

Pierre en Janet Jacobs verlaat die geskiedkundige Pontenilo-plaas om af te tree.

“Ons het aanvanklik niks van boerdery af geweet nie, maar die destydse bestuurder op die plaas het ons baie geleer. Ons het ook baie navorsing gedoen, veral uit die Dairy Mail-tydskrif en aangesluit by die melkprodusente-organisasie. Tegnologie verander so vinnig in hierdie bedryf en mens leer elke dag,” het hy gesê.

Janet het jarelank die administrasie van die plaas behartig.

Oor die berugte lang werksure wat melkerye verg, lag hy droog.

“’n Melkery bestuur jou, nie jy die melkery nie. Die geheim is dat wanneer jy lief is vir dit wat jy doen, jy nie omgee vir die lang ure nie. Ons is lief vir die beeste en besorg oor hul welstand. Wanneer iets gelukkig is – en dit sluit onsself en die werkers ook in – dan gee hulle meer as waarvoor jy vra. ’n Gelukkige en gesonde melkkoei lewer meer melk.”

Boerdery, glo hy, is ’n geloofsaak en hou ’n mens op jou knieë.

Die Jacobse se wortels lê diep in die omgewing geplant.

“Ek het groot geword in ’n huis in Van Riebeeckstraat en het aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. As kinders het ons ’n melkkoei in die erf gehad.”

Pontenilo is baie dekades lank reeds ’n melkplaas.

“Ons het dit by Geoff Pitout gekoop wat self 21 jaar ’n melkery hier bedryf het. Hy het dit op sy beurt by ’n Wilken gekoop, wat die eerste Ford-agentskap in die dorp bestuur het. Dié het die plaas by die bekende argitek, Gerhard Moerdyk gekoop,” het Jacobs vertel.

Moerdyk het ook die mooi ou kliphuis wat langs die Jacobse se woning staan, met klip uit die omgewing gebou.

“Ons het gehoor dat Moerdyk se uitsig op Kranskop sy inspirasie vir die ontwerp van die Voortrekker-monument was. Ons het oral op die erf sonwysers gevind, asook by Moerdyk se graf op die plaas. Dié het hy glo gebruik om te bepaal hoe hy die monument moet ontwerp sodat die ligstraal op Geloftedag, 16 Desember op die sarkofaag in die monument val.”

Die bekende skrywer Irma Venter, ’n kleindogter van Moerdyk, het “Anderkant die Pontenilo” geskryf waarvoor sy in 2010 ’n ATKV-prys ontvang het. In die boek beland ’n Italiaanse krygsgevangene op ’n plaas in die Bosveld.

“Die plaasnaam het werklik sy oorsprong van Italiaanse krygsgevangenes wat in hul taal beduie het waar hulle klippe gekap het vir die bou van brûe asook die kliphuis op die plaas. Die Nylrivier loop langs die plaas verby en Pontenilo verwys na ’n “pont” of oorgang oor die rivier,” het Jacobs vertel.

In die verte bulk ’n bees en ganse kla mekaar aan oor nietige oortredings. Die wind roer deur die Jakaranda-laning langs die grondpad, sy pers skouspel wat tot later die jaar moet wag.

Die Jacobse verhuis na Pretoria waar hulle saam met een van hul seuns gaan woon. Gaan hulle nie die melkplaas mis nie?

“Ons gaan definitief, maar as die verlange groot word, is die Irene-melkplaas darem nie te ver weg nie,” glimlag Jacobs.

Pontenilo sit sy geskiedenis voort onder die hande van sy nuwe eienaar, Nobbie Marais. Hy is voorsitter van die Pinzgauer-vereniging en boer ook met Nguni-beeste en Kalahari Red-boerbokke. Hy beplan om voort te gaan met die melkery en verder te ontwikkel, sê Jacobs.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button