Local newsNews

Ongeluk eis jong man

Die lewe van ’n lewenslustige jong man is onverwags beëindig nadat hy en ’n vriend Saterdagaand in ’n motorongeluk net buite Bela-Bela betrokke was.

Volgens die plaaslike polisie het die Ford Ranger-bakkie waarin die twee jong mans was, die pad byster geraak en deur ’n heining van ’n Noodhulp-hoewe gebars. Die Bela-Bela-brandweer se noodvoertuie was kort na die ongeluk op die toneel en het die ‘Jaws of Life’ gebruik om die insittendes uit die wrak te bevry.

Die 21-jarige James Meijer van Modimolle en sy vriend, Michael Fourie van Vaalwater, was op pad terug van die Kampvuurfees by die Mbizi-natuurreservaat toe die ongeluk sowat 4 km buite Bela-Bela gebeur het.

Volgens James se ma, Wendy, het hulle net na 22:00 Saterdagaand ’n oproep vanaf Michael se selfoon gekry. Dit was ’n polisiebeampte wat enkele minute nadat die ongeluk ge-
beur het op die toneel aangekom het.

“Ons het onmiddellik na die ongelukstoneel toe gejaag. Die nooddienste kon Michael uit die voertuig kry, maar nie vir James nie. Ek kon sien dat my kind nie meer lewe nie en ek het sy oë saggies toegedruk.”

Die Pos het Michael se pa opgespoor wat bevestig het dat sy seun tans in die intensiewe eenheid van ’n Pretoriase hospitaal opgeneem is en erg getraumatiseer is. Hy het vier gebreekte ribbebene en sy een long is beskadig. Hulle wag op verdere nuus van die dokters.

Volgens Wendy is die oorsaak van die ongeluk nie bekend nie. Die voertuig waarin die twee jong mans was, het teen ’n paal gebots wat James op die passasierskant getref het. Die slag was baie hard en mense wat in die omgewing woon het dit gehoor.

Wendy het haar seun se liggaam Maandagoggend gaan uitken.

“Dit was vir my ’n heilige oomblik. Ek het so baie gedink aan die dag toe hy gebore is en ek so verwonderd was oor hierdie mens wat in ’n kombersie toegedraai is wat die Here vir ons gegee het. Ons harte is stukkend oor James wat op so ’n jong ouderdom van ons weggeneem is.”

Sy het gesê dat James baie lief was vir die Modimolle-omgewing en na skool hier wou bly. Hy was in Laerskool Tuinplaas en het aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Hy het sy eie konstruksie-onderneming gehad nadat hy ’n tyd lank saam met sy pa, Gert, gewerk het.

“James was baie lief vir sy sport gewees. Hy was ’n ondeunde, besige jong mens gewees wat alles met oorgawe aangepak het. Hy het verseker vyftig jaar in sy 21 jaar op aarde ingepak.”

James laat sy ouers Gert en Wendy Meijer, sy broer GP en suster Deirdre agter asook sy oumas Hentie Barlow en Ivy Meijer, nabye familievriend Henk van Nieuwenhuizen, en ’n geliefde wyer familie.

Sy troosdiens vind op Vrydag,7 Junie om 11:00 vanuit die NG-Oos-gemeente in Modimolle plaas. Kol. Annemarie Smith van die Bela-Bela SAPD het bevestig dat ’n roetine saak van strafbare manslag ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button