Jonges dans wêreld aan die brand
’n Groot droom om in Amerika teen dansers van regoor die wêreld mee te ding, was vir verskeie jong plaaslike dansers bewaarheid toe hulle gedurende die Junie-skoolvakansie oor die groot water kon vlieg.
Agt dansers van die LPD Studio of Dancing in Modimolle het Suid-Afrika gaan verteenwoordig by die American Dance Awards wat in Rhode Island, Providence aangebied is.
Juanel Visagie van die Waterbergskool vir CVO in Modimolle het drie solo-items gedans en het ’n algeheel vyfde plek in haar ouderdomsgroep behaal vir haar ballet-solo.
Haar uitslae was 91,3% vir die ballet-solo, 88,6% vir die acro-solo en 89,3% vir haar “lyrical solo”.
Zelmia Cornelius, ook van die Waterbergskool vir CVO, het 91% vir haar hip-hop-solo behaal en 88,6% vir haar ander item.
Lee-Anne Pretorius, ’n leerder van Hoërskool Nylstroom, het 90,1% vir haar hip-hop-solo gekry.
Beide Zelmia en Lee-Anne was deel van die groepsdans Bola Rebola wat ’n algeheel eerste plek in hul ouderdomsgroep behaal het met ’n gemiddeld van 94,3%. Hul ander groepsitem, Jack in a Box, het 92,3% gekry.
Dineo Pilane en haar suster Oarabile, albei van Hoërskool Nylstroom, het elkeen ’n solo-item gedans en saam ’n hip-hop-duet gedans.
Die twee sussies het puik gevaar. Dineo het ’n algeheel derde plek in haar ouderdomsgroep vir haar hip-hop behaal met ’n gemiddeld van 92,5% en Oarabile het ’n gemiddeld van 90,5% vir haar solo behaal. Die twee het ’n algeheel eerste plek en ’n gemiddeld van 92,5% vir hul hip-hop duet gekry.
Anelri Nienaber van Laerskool Warmbad het ook aan Bola Rebola en Jack in a Box deelgeneem. Sy het ’n algehele vierde plek verower vir haar ouderdomsgroep met ’n gemiddeld van 91,6% vir haar hip-hop solo.
Sy het 91,6% ontvang vir haar contempo-solo. Sy was aangewys as ’n “All Star”-wenner, wat ’n merkwaardige aanprysing op ’n internasionale verhoog is.
Alexie Grobler, ook van Laerskool Warmbad, was ook in die Bola Rebola en Jack in a Box-groep. Alexie het ook drie solo-danse gedoen en ’n algeheel derde plek in haar ouderdomsgroep behaal vir haar hip-hop-solo met ’n gemiddeld van 91,6%. Sy het 90% vir haar ballet-solo ontvang en haar 91,5% vir haar “musical theatre”-solo.
Alexie en haar sussie Emily het ’n duet gedans en was algeheel eerste in hul ouderdomsgroep met ’n gemiddeld van 89.3%. Emily was algeheel vierde vir haar hip-hop solo (89,5%).
Vir haar “tap”-solo het sy 88,3% ontvang. Sy het ook twee spesiale toekennings ontvang, een vir choreografie en een vir “True to Culture Hip Hop”.
Die groep is deur hul afrigter, Whilma van der Merwe, op die avontuur vergesel.
“Ons was vir drie dae in New York waar ons die voorreg gehad het om by die Lincoln Square te kon stop, Julliard School of Performing Art te kon beleef en ’n streksessie in Central Park te kon aanpak,” het sy vertel. Een van die grootste hoogtepunte was die Lion King-vertoning wat hulle op Broadway kon gaan kyk.
Hulle het talle ure se werkswinkels bygewoon wat verseker het dat hulle teruggekom het met nuwe passie en ’n dryfveer vir hul dans, het Van der Merwe gesê.