Stormwind saai verwoesting
’n Storm met baie sterk winde wat verlede naweek deur die Mookgophong- en Crecy-omgewing getrek het, het derduisende rande se skade aangerig.
Die storm het Sondagmiddag 27 Oktober deur die gebied beweeg en volgens van die boere het die storm meer windskade as reën gebring. Daar is slegs sowat 10 mm reën gemeet.
Store en huise se dakke het afgewaai, spilpunte, wildwering en bome is omgewaai, oeste is verniel en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het groot skade aan hul infrastruktuur gehad nadat talle kraglyne omgewaai het.
Inwoners in groot dele rondom Mookgophong was vir drie dae lank sonder krag.
Volgens Floris Booysen, voorsitter van die Crecy-boerevereniging, weet hy van vyf spilpunte wat omgewaai het. Hy het self groot skade op sy plaas gely. “Ek was by Crecy besig om vuur te slaan toe die storm opkom.
Dit het baie grond opgetel en rondgewaai. Dit was so erg toe ek by die huis kom kon ek nie uit die voertuig klim nie,” het hy gesê.
“Die boere in die omgewing is hierdie week druk besig om hul store te herstel. Een van ons probleme is dat die oes-reste waarmee ons die beeste nou voer, ook weggewaai het.”
Marita Louw, VF Plus-raadslid in Mookgophong, het gesê dat huise in die dorp se vensters stukkend geslaan is en dakke en plafonne skade gekry het. “
’n Huis in die Grootvallei-omgewing se dak het afgewaai en al die meubels is beskadig,” het sy gesê. Elektriese kabels in die Grootfontein-, Palala- en Constantia-gebiede is afgeruk.
“Swak instandhoudingswerk het die probleem vererger omdat van die pale reeds in ’n swak toestand was,” het sy gesê.
Die foutopsporing het lank geneem en talle pale moes weer geplant word.
Die munisipaliteit se elektriese span het Dinsdagaand 29 Oktober tot laataand gewerk om die herstelwerk af te handel en weer elektrisiteit aan al die gebiede te verskaf.