Hoop te midde van waterkrisis
Modimolle het onlangs weer gebuk gegaan onder ’n ernstige waterkrisis. Krane was vir dae lank droog en inwoners moes maar plan maak om water op te gaar vir huishoudelike gebruik.
Volgens Wiets Botes, raadslid van die Demokratiese Alliansie (DA) in Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, is die waterkrisis hopelik nou opgelos en die enigste uitdaging wat nou voorlê is om die reservoirs vol te kry.
Met die buitengewoon warm dae is die waterverbruik van inwoners hoër en vat dit langer om die watervlakke op te kry. Hy het gesê dat inwoners nog vir ’n paar dae ongerief sal ervaar totdat die stelsel gestabiliseer het.
Botes sê die probleem het ontstaan by Magalies Water, waar tegniese probleme veroorsaak het dat water nie gepomp kon word tot op Modimolle nie. Bela-Bela, die buurdorp ondervind dieselfde probleme met watervoorsiening.
Beurtwater word nou toegepas totdat die reservoirs weer op hul maksimum kapasiteit is.
Teen Maandag, 4 November is gerapporteer dat drie van die reservoirs se stand soos volg was: die Magalies- reservoir het op 40% gestaan, die Donkerpoort-reservoir op 25% en die Modimolle-reservoir op 5%.
Volgens Magalies Water het ’n buite kontrakteur ’n kommunikasie kabel beskadig wat die pompe nie laat funksioneer het nie. Die probleem is intussen herstel en die water word weer van
Magalies Water gepomp. Die pompstasie by Sondela, net buite Bela-Bela, sou ook aangeskakel word om die water vinniger tot in Modimolle te kry.
Inwoners het intussen ’n water rantsoeneringrooster ontvang wat geldig is van 4 tot 17 November waarin hulle meegedeel word
watter dae die water beskikbaar sal wees en wanneer nie.
Die rantsoenering is as gevolg van die poging om die reservoirs weer tot op hul optimale vlakke te bring.
Botes het ook gesê dat daar te midde van die huidige krisis, ook ’n paar ligpunte is. Die pyplyn vanaf Donkerpoortdam is in die proses om opgegradeer te word. Die plan is dat die opgradering teen 14 Desember voltooi moet wees.
Daar sal in Januarie nog toetse op die stelsel gedoen moet word. Die kontrakteurs het aangedui dat hulle teen einde Januarie die projek wil oorgee aan die munisipaliteit.
Die pyplyn sal strek vanaf Donkerpoortdam tot by die Gholfstraat-reservoir vanwaar dit dan weer versprei sal word.
Daar is ook ’n nuwe pypleiding wat aangelê gaan word vanaf Madibeng (Brits) tot in Mokopane, dit loop deur Modimolle en daar gaan ’n groot reservoir op die Eersbewoondpad opgerig word.
Modimolle gaan ook voorsien word van water uit dié betrokke pypleiding.
Daar is volgens Botes nog ’n paar uitdagings wat die implimentering van die projek vertraag, maar as die projek uiteindelik voltooi is, sal Modimolle weer op die voorvoet wees en ernstige water tekorte behoort iets van die verlede te wees.