Materiaalwinkel se eienaar groet
Vir die naaldwerksters in Bela-Bela is dit ’n groot slag toe Marietjie de la Porte van Warmbad Materiale aangekondig het sy het haar winkel verkoop en verhuis na Brackenfell in die Wes-Kaap. De la Porte het 17 jaar gelede die Bernina-agentskap begin en het talle inwoners van die Waterberg die fynere kuns van naaldwerk geleer.

Toe Linda’s Materiale in 2016 op die mark kom het sy die gaping gesien en die materiaalwinkel by haar naaldwerkmasjiene ingesluit en der halwe ’n-een-stop-diens gelewer vir die gemeenskap. Die nuwe sakeonderneming het Warmbad Materiale geheet en sy sê self: “Dit was ʼn plek waar ons meer as net materiaal verkoop het, ons het ʼn gemeenskap gebou.”
Van ’n kosbare brokaat vir ’n spesiale uitrus-ting tot katoen om mee kwilt werk te doen, die mooiste knope of linte wat ’n uitrusting kon afrond, is hier te kry. Voeg daarby die vaardigheid en uitgebreide kennis van de la Porte en haar droom om ’n diens aan die gemeenskap te lewer, kry gestalte.
Sy voel baie bevoorreg dat sy haar kennis deur naaldwerk, borduurwerk en masjien opleiding kon gebruik om die gemeenskap te versterk. “Ons het saam gelag, geleer en geskep. Elke klas was ’n geleentheid om nuwe vriendskappe te smee en oues te versterk.”
Dit was baie opwindend om nuwe kledingstukke te skep, maar dit was vir haar nog lekkerder om ou gunstelinge te herstel, op te tooi en ’n nuwe lewe te kon gee.
Met gemengde gevoelens neem sy afskeid van Bela-Bela en sy mense en sê dat elkeen beslis ’n spesiale plek in haar hart het. Sy is nie net dankbaar vir al die ondersteuning wat sy in haar sakeonderneming ontvang het nie, maar ook omdat almal haar gehelp het om haar eie droom te bewaarheid. Vir dit sal sy altyd dankbaar bly. Sy sê ook dankie vir die gedeelde stories, die lag, die trane en veral vir die vertroue wat kliënte in haar geplaas het. Dit alles het Warmbad Materiale meer as net ’n winkel gemaak, dit was ’n tuiste vir kreatiewe naaldwerksters.
Die nuwe eienaar van Warmbad Materiale, Daleen Muller, het reeds op 1 Maart die winkel oorgeneem en is gereed om die inwoners van Bela-Bela met raad en daad by te staan. Die sakeonderneming sal voortaan as Bosveld Materiale bekend staan en is steeds op dieselfde perseel langs KFC.