Local newsNews

Oud-onderwyser oorlede

Die inwoners van Bela-Bela het met skok verneem van die afsterwe van Joan Terblanche op Sondag, 9 Maart ná ’n stryd met kanker.

Terblanche het vir meer as 28 jaar in Bela-Bela gewoon. Sy het in Maart 2023 saam met haar man, Hennie na Humansdorp in die Oos-Kaap verhuis.
Joan is sowat ’n jaar gelede met kanker gediagnoseer. Sy het besluit om nie chemo-terapie te ontvang nie en eerder ’n holistiese benadering gevolg. Sy het onwrikbaar geglo in geloofsgenesing.
Joan is op 2 Desember 1964 gebore en het verlede jaar haar 60ste verjaardag gevier. Na skool het sy haarself as onderwyser bekwaam. Sy het by Laerskool Warmbad vanaf 2006 –2013 skoolgehou en is daarna in ’n bevorderingspos by Hoërskool Warmbad aangestel, waar sy lewenswetenskap aangebied het tot en met haar uittrede in 2018.
Sy sal deur baie leerders onthou word vir die positiewe aandeel wat sy in hulle lewens gehad het.
Sy het egter nie geglo in stilsit nie en kort voor lank haar in die sake wêreld begeef toe sy en haar man, Hennie, die Flamboyant Gastehuis in Bela-Bela gekoop het.
Hulle het baie vernuwings aangebring en sy het vir ’n tyd lank self die gastehuis bestuur. Sy was bekend dat sy aktief en sportief was en het vir 15 jaar Ametz-fiksheidsklasse in die dorp aangebied. Sy was ook bekend vir die barmhartigheidswerk wat sy deur haar kerk gedoen het.
Joan laat haar vier kinders Jeshua, Jude, David en Carlin Schabort, asook haar man Hennie agter. Haar begrafnis is op Saterdag 15 Maart, om 14:00 vanuit die Victory Church, in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button