R10 biljoen se skuld is skinderstorie, sê Modi-burgemeester
Gerugte dat die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit ’n allemintige R10 biljoen in die rooi is, is onwaar.

Die Pos het navraag gedoen by die dorp se burgemeester, Sechele Sebolai, oor hardnekkige gerugte dat die plaaslike owerheid se skuldlas nou reeds verbysterende bedrae van biljoene beloop. Hy het dit ten sterkste ontken. Volgens Sebolai is die beweringe net ’n skinderstorie. “Die munisipaliteit het nie R10 biljoen se skuld nie, maar ons is wel diep in die skuld by Eskom,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat daar reeds ’n betalingsooreenkoms onderteken is tussen Eskom en die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit om hierdie skuld in paaiemente af te betaal. Die munisipaliteit is ook ’n begunstigde van die skuldverlig-
tingsmaatreëls wat deur die nasionale tesourie ingestel is om sukke-
lende munisipaliteite by te staan.
Hy het Die Pos verseker streng maatreëls word toegepas om die uitstaande skuld te delg. Indien die munisipaliteit in gebreke bly in hul ooreengekome paaiemente, verbeur hul die voordeel van die rente op die reuse bedrag, wat afgeskryf sal word. Dit is in die munisipaliteit se belang om stiptelik by die reëling te hou.