
Die sentrum sien om na 31 kinders van sover as Lephalale en Thabazimbi.
Anna Khunyedi (76) het in 2006 ’n behoefte raakgesien vir ’n huis vir kinders wat onversorgd en sonder ouers was. Sy het ’n gebou van Transnet gehuur en die sentrum in 2008 geopen. Khunyedi het die kinders aanvanklik self versorg, maar het in 2010 hulp van die departement ontvang, het sy aan Die Pos gesê. Probleme met die betaling van die subsidie het egter sedert Oktober verlede jaar kop uitgesteek. Teen die einde van Junie vanjaar het sy drie maande se geld ontvang, het sy aan Die Pos gesê.
Die departement se ouditeure het Khunyedi glo besoek, waarna hulle beweer het dat die geld wanbestee word. “Ek het ’n skoon oudit van my ouditeure gekry en weet nie wat die departement se probleem is nie. Ek kon al hul vrae beantwoord en daar is geen bewyse wat bevestig dat die geld wanbestee word nie,” het sy gesê.
Die sentrum moes in September vanjaar herregistreer vir die volgende vyf jaar. Khunyedi kon egter net vir ses maande registreer weens die aantygings teen haar, het sy gesê. Die sentrum is daarna onder die administrasie van Huis Tekna, ’n kindertehuis in Bela-Bela, geplaas.
Volgens Khunyedi het sy die nodige dokumente geteken en ’n afgevaardigde van Huis Tekna sou Manthadi op Dinsdag 26 November besoek het. Die besoek is uitgestel tot Donderdag 28 November, maar niemand het glo opgedaag nie en sy het niks weer van hulle gehoor nie.
Die organisasie het in Julie vanjaar laas geld ontvang, het Khunyedi gesê.
Manthadi is nou afhanklik van skenkings uit die gemeenskap om na die 31 kinders in hul sorg om te sien. Die sentrum vervoer die kinders skool toe met ’n bussie wat deur ’n Sweedse maatskappy geskenk is, het sy gesê.
“Die gemeenskap, maatskaplike werkers en die hof verwys steeds kinders na Manthadi. Van die kinders presteer swak op skool omdat hulle getraumatiseer is of nog nooit vantevore in die skool was nie,” het sy gesê.
Khunyedi, wat in Brits gebore is, was voorheen ’n ontvangsdame en het later by gemeenskapswerk betrokke geraak. Haar groot droom vir Manthadi is om ’n groter plek te bou om die kinders in ’n gesinssopset te huisves. Sy het reeds ’n plek in die oog waar sy ’n groter sentrum kan bou. Khunyedi het gesê personeel is op Vrydag 6 Desember betaal, maar dat sy onseker is oor wat 2020 inhou.
Hoewel Die Pos verskeie kere probeer het om die departement van maatskaplike ontwikkeling vir meer inligting te kontak, was die pogings onsuksesvol.
Melenie Nel van Huis Tekna het by navraag gesê die departement van maatskaplike ontwikkeling het hulle genader om te help met die opleiding van die personeel by Manthadi sodat die sentrum na behore bestuur kan word. Sy het aan Die Pos gesê dat sy en afgevaardigdes van die departement vroeg in Januarie 2020 die sentrum sal besoek om opleiding en die nodige hulp te verleen.
Die afvaardiging kon nie die sentrum einde November besoek nie omdat daar in dié tyd ernstige oproer in Mookgophong was en paaie onder meer versprer was. Die departement het nie weer daarna ’n datum vir die besoek vasgestel nie, het sy gesê. Sy het voorgestel dat Manthadi intussen ’n versoek rig om weer hul volledige subsidie te kry sodat daar geld vir kos en salarisse beskikbaar gestel kan word. “Ons sien uit daarna om hulle te help en deel graag ons kennis met hulle,” het sy gesê.