NewsSchools

Skoolhoof verlaat onderwys ná 40 mooi jare

Skoolhoof Charl Weideman roep die onderwys ná 40 jaar vaarwel toe, want dit is tyd om te gaan rus.

Hy was 21 jaar lank by Laerskool Eugené N. Marais in Mookgophong betrokke.

Die skool het Weideman op Donderdag 28 November tydens ’n afskeidsgeleentheid as skoolhoof gegroet. Gerrit Buys, waarnemende hoof, het na Weideman verwys as “’n onderwysman wat ’n voorloper in moeilike tye was”. Hy is ook beskryf as ’n man wat ’n kind se hart verstaan en hulle altyd aangemoedig het.

Weideman, wat in Pretoria gebore is, was in Laerskool Pretoria-Oos en het aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer. Hy het ná sy studies aan die destydse Normaal Kollege Pretoria (NKP) by Laerskool Potgietersrus begin skoolhou. Hy het ’n ruk by Laerskool Dennesig in Middelburg skoolgehou. Weideman het ook waargeneem as skoolhoof by Laerskool Bosveld in Lephalale voordat hy in 1998 die hoofpos by Laerskool Eugené N. Marais gekry het.

Weideman en sy vrou, Debbie, ’n verpleegkundige by die weermag (SANW) in Mookgophong is al 39 jaar getroud. Hulle het twee kinders en vyf kleinkinders.

Hy het gedurende sy onderwysloopbaan diep spore op die sportveld en ook as kultuurhoof by Laerskool Potgietersrus getrap. Hy het hom as rugbyskeidsregter bekwaam en was hulpafrigter van Hoërskool Hans Strijdom se o.15-span wat in 2011 die Beeldtrofee gewen het.

Hy is tydens die afskeidsgeleentheid, wat in die skoolsaal gehou is, geloof vir sy goeie werk en leidende rol in die gemeenskap van Mookgophong. Hy is beskryf as ’n “legende” wat gemis sal word.

Weideman het gesê die verskil wat hy elke dag kon maak en om ’n glimlag op ’n kind se gesig te sien as hy of sy iets behaal het, was van die hoogtepunte in sy onderwysloopbaan.

“Dit is ’n voorreg om elke dag met God se koningskinders te werk en so jou roeping uit te leef. Gee vir ons kinders ’n doel en ’n droom sodat hulle nie hoop verloor nie. As jy ’n droom het, het jy rigting,” was sy boodskap aan die onderwysers.

Weideman gaan eers ’n “gap” jaar neem en saam met sy vrou toer voordat hy gaan werk maak van haar “doenlysie”. Hulle sal steeds in Mookgophong bly en sy doelwit is om projekte aan te pak om skole te help met fondsinsamelings.

Die tema van die aand was boeke. Elke lewe skryf ’n storie en die vroulike personeellede het elkeen ’n tafel volgens dié tema gedek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button