
Dít is die woorde van Ruvé Blaauw, Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se topmatrikulant van die 2020 matriekgroep.
Ruvé, wat gereed staan om ’n nuwe hoofstuk in haar lewe af te skop as student aan die Universiteit van Pretoria in aktuariële wetenskap, het agt onderskeidings in die matriekeksamen behaal.
Die Pos het by haar gaan hoor hoe sy dit regkry om soveel sukses te behaal en steeds haar voete op die grond te hou. Vir Ruvé is die antwoord eenvoudig: Jy moet luister na mense.
“Ek dink regtig ek het goed gedoen op skool omdat ek net geluister het. Ander mense, en veral ons onderwysers en ouers, het ervaring. It’s not their first rodeo. As ’n mens soms aandagtig luister, kan jy nie anders nie as om meer te leer van die lewe,” het sy gesê.
Volgens Ruvé kan ’n mens selfs leer by mense wat jonger as jy is as jy regtig belang- stel in ander se stories.
“My sussie, wat vanjaar in matriek is, het my byvoorbeeld geleer dat jy baie ver kan kom as jy goed beplan.”
Ruvé sê sy wil beslis nie ’n bleeksiel-aktuaris wees nie.
“Ek het deur die jare na my jongste boetie en sussie gekyk en geleer om die lewe soos hulle te geniet en te waardeer,” vertel sy.
Sy sê haar ouers het ’n groot rol in haar loopbaankeuse gespeel.
“Ek dink ek het seker maar my sakebrein by my pa gekry. Ek het vroeg in my lewe geweet ek wil eendag die korporatiewe leer klim en ’n boss lady word,” spot sy.
Ruvé glo, soos haar ma haar geleer het, dat vriendelikheid ’n mens niks kos nie en dat dit net ’n bietjie uithouvermoë en beplanning verg om ’n doel te bereik.
Sy het haar kinderjare in Johannesburg deurgebring, maar dit is in Thabazimbi waar sy geleer het om die lewe, die wêreld rondom haar en die klein dingetjies wat ’n mens maklik miskyk, te waardeer.
“Ek dink as ’n mens grootword in ’n dorp soos Thabazimbi, leer jy om anders na die lewe te kyk. Jy leer luister na ander se stories en om die klein dinge in die lewe te waardeer.”