Skole in die duister oor wanbetaling
Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se “Operasie Patala” se tande was vandeesweek langer en skerper met verskeie skole en sakeondernemings se elektrisiteit wat afgesny is weens uitstaande skuld.

Die Susan Strijdomskool vir kinders met spesiale leerbehoeftes se elektrisiteit is op Dinsdag 7 Maart afgesny weens wanbetaling. Hulle skuld aan die munisipaliteit beloop glo R4,8 miljoen. Teen druktyd op Woensdag 15 Maart was die kragtoevoer steeds nie herstel nie. Die skool het Die Pos na die departement van onderwys verwys, maar hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Verskeie ander skole se elektrisiteit is ook afgesny, maar hulle kon binne dae hul skuld vereffen of ’n afbetalingsooreenkoms met die munisipaliteit aangaan.
Inwoners skuld die munisipaliteit sowat R900 miljoen met ’n betalingspersentasie van slegs 50%. “Operasie Patala” (betaal) is daar-op gemik om uitstaande skuld in te vorder. Volgens die burgemeester Marlene van Staden word diegene wat geld aan die munisipaliteit skuld en meer as 60 dae agterstallig is met hul rekeninge, se elektrisiteit afgesny.
Dit het tot groot ongelukkigheid in die munisipaliteit gelei met vergaderings wat belê en benoem is: “Marlene Must Go”, “Johannes Must Go” en “Thabang Must Go”. Laasgenoemde verwys na Johannes Molekoa, die munisipaliteit se van hoof van invordering en Thabang Selema, afdelingshoof van water en sanitasie.
Die tesourie het onlangs in hul omsendbrief nommer 123 onder die opskrif: “Munisipale skuldverligting” geskryf dat munisipale skuldverligting wat gebonde is aan voorwaardes, goedgekeur is.
“Die verligting is daarop gemik om die onderliggende daaglikse werking van wanbetalende munisipaliteite te korrigeer. Daar word ook gekyk na oplossings wat betref die gebruik van slimmeters om verbruikersgedrag te verander en ’n kultuur van betaling vir dienste te skep,” lui die brief.
Dit sluit in die afskrywing van alle Eskom-skuld deur munisipaliteite oor ’n tydperk van drie jaar met maandelikse betaling van hul rekening as voorwaarde. Daar word ook gekyk na maniere om nie-betaling te voorkom en die installering van voorafbetaalde meters om wanbetaling te systap.
Hierdie enorme verligting is egter nog nie goedgekeur nie.
Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit skuld Eskom tans R838 miljoen. Volgens Van Staden betaal die munisipaliteit op hierdie stadium 65% van die billike toedeling -toelae wat hul van die regering af ontvang aan Eskom. Dit sou die munisipaliteit ongeveer 10 jaar neem om die groot skuldlas te delg.
“Dink net as ons R90 miljoen per jaar meer het om aan dienslewering te bestee. Hoeveel sakke teer, gloeilampe en vullisverwyde_ringstrokke is dit nie? Dit sal ’n dramatiese verskil maak,” het Van Staden gesê.
Die vasvat van wanbetalers strek verder as hierdie munisipaliteit. Die Polokwane-munisipaliteit se geduld is blykbaar ook min.
In ’n mediaverklaring het die provinsiale departement van gesondheid vandeesweek sy kommer uitgespreek dat die kragtoevoer na hospitale afgesny kan word weens uitstaande skuld. Die skuld van R53 miljoen van Mankweng-hospitaal in Polokwane aan eiendomsbelasting is volgens die departement verkeerdelik toegewys aan die departement van gesondheid. Die eiendomsbelasting moet glo deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming betaal word. Hul rekening vir dienste gelewer is dus nie agterstallig nie.