Schools

Paulus is al 41 jaar deel van die Warries

In die vroeë oggendure is daar in Bela-Bela ’n stil silhoeët op ’n fiets wat rustig voort trap na sy werksplek, Hoërskool Warmbad. Hierdie man, beter bekend as Paulus Choene, gebore op 6 April 1964, is die sleutelfiguur in dié skool se ryke geskiedenis.

Paulus wat reeds 41 jaar in diens is van die Limpopo Onderwysdepartement is reeds as jong kannetjie aan Hoërskool Warmbad se terrein bekendgestel toe sy pa, Alec Choene, daar gewerk het.

Hy het die leisels by sy pa op die jong ouderdom van 17 jaar oorgeneem. Op 17 Januarie 1983 word hy as die skool se bode aangestel. Hy het egter gou gewys dat hy uiters betroubaar was en het verantwoordelike take op sy skouers geval. Hy het saam met agt skoolhoofde gewerk en elk het vir hom ’n goeie getuigskrif gegee.

Paulus Choene.

Paulus het aan Die Pos gesê dat die skool soos sy tweede huis is. Daar is min plekke en stoorkamers op die terrein wat hy nie van weet nie. Die Warrie-leerders het oor jare geleer dat Paulus die man is wat weet waar alles is.

In ’n gesprek met Die Pos het Paulus genoem dat dit vir hom ’n voorreg is om te doen waarvoor hy lief is.

“Niemand het nodig om vir my te sê dat ek iets moet doen nie. Ek loop op die skoolterrein en as ek ’n probleem sien, dan maak ek dit self reg.”

Lita Greyling, finansiële beampte by die skool wat nou met hom saamwerk, beskryf hom as skerp en bekwaam, iemand wat die skool tot in die fynste besonderhede ken en die skool se belange op die hart dra.

Hy het aan Die Pos gesê daar was moeilike tye, maar nooit dat hy die skool in die steek wou laat nie. Hy is lief vir die kinders en die personeel wat oor baie jare gekom en gegaan het. Hulle was altyd deel van sy ‘skoolfamilie’.

Jare se samewerking met hoofde, onderwysers en leerders is vir Paulus ’n kosbare skat van herinneringe. Hy sê met ’n glimlag dat alhoewel hoofde mag verander en leerders skool verlaat, sal hy bly. Sy werk is nie net ’n plig nie, maar ’n roeping en ’n deel van sy identiteit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button