Hansies se vreugdevure brand hoog
Daar was groot jolyt toe die matrikulante van 2024 hulle uitslae op Dinsdag 14 Januarie by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong kom afhaal het.

Die Hansies het ’n slaagsyfer van 96,4% waarvan 89,3% van die kandidate toelating gekry het vir verdere studies.
“Ons is regtig trots op die leerders se uitslae. Dit het weereens bewys dat toegewyde, harde werk dit die moeite werd maak,” het Lizel Swart, akademiese adjunkhoof gesê. Die vyf toppresteerders is Isebelle de Beer met ’n gemiddeld van 93,71 %, Zander Law 87 %, Izabella Rentroia 79,42%, James Briel 77,77% en Wietse Botes77,28%.
Dié leerders het groot planne vir hulle toekoms en die skool en gemeenskap sal hulle dophou en ondersteun waar nodig is.
Isebelle de Beer het onderskeidings in Afrikaans HT, Engels EAT, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, besig-
heidstudies en rekenaartegnologie. “Dit is vir my die grootste voorreg en genade om die punte te kon kry vandag. Ek gee alle eer aan die Here want al het ek hard gewerk, het Hy dit aan my gegee ongeag die moeilike tye,” het Isebelle gesê. Sy gaan BSc Aktuariële Wiskunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Wiskunde is my passie en ek kan nie wag om dit elke dag te kan doen nie,” het sy opgewonde vertel. Sy het nie net die skool en onderwysers bedank nie, maar ook vir Hettie Mattfield en Isak Enslin wat haar gehelp het om haar Wiskunde drome waar te maak.
Zander Law het onderskeidings in Afrikaans HT, Engels EAT, lewensoriëntering, wiskunde, rekeningkunde, besigheidstudies en rekenaartegnologie verwerf.
“My toekomsplanne behels om ’n BCom-graad in rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria te volg, met die uiteindelike doel om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Daarna beoog ek om ’n MBA te doen om my sakekennis en leierskapvaardighede verder uit te brei. Die behaal van my matriekuitslae was ’n reis van deurlopende selfverbetering en geloof—ek het dit as ’n doel gehad om elke dag beter te wees as gister, en myself te druk om te groei. Ek weier om gemiddeld te wees, want ek glo sukses lê in die oorskry van die norm. Ek wil nooit in die strik van middelmatigheid trap nie, en ek mik altyd na my doelwitte, ver weg van gemiddelde. Colossians 3:23-24- Whatever you do, work at it with all your heart, as working for the Lord, not for human masters, since you know that you will receive an inheritance from the Lord as a reward – Fokus nie op rykdom nie—jaag sukses na, want finansiële gewin is ’n natuurlike byproduk van prestasie. Sukses is die ware geldeenheid,” het hy aan Die Pos gesê.
Izabella Rentroia skryf haar sukses toe aan geloof en harde werk. “My plan vir hierdie jaar is om my studies in spraakterapie te begin by die Universiteit van Pretoria. My droom is om eendag op hierdie manier ’n impak op mense te maak en ander se lewens positief te beïnvloed,” het sy gesê. Sy het onderskeidings in Afrikaans HT, Engels EAT, lewensoriëntering en besigheidstudies verwerf.
Anika Meyer het ook vier onderskei-
dings gekry in Afrikaans HT, Engels EAT, lewensoriëntering en besigheidstudies. “Ek gaan vir ’n LLB-graad by Akademia studeer. My grootste droom is om ’n suksesvolle loopbaan vir myself te bou, maar steeds gelukkig te wees. My uitslae skryf ek toe aan baie genade van die Here en natuurlik harde werk en toewyding, het sy gesê.
James Briel het drie onderskeidings en gaan BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Wietse Botes, Chaldene Burger, Lené Nel, Chinika Pretorius en Ian Smit het ook elk drie onderskeidings verwerf.
Die Hansies het altesaam 58 onderskei-
dings bymekaar gemaak.