BlogsOpinion

Dwelms is onder ons neuse

Dwelms is besig om ’n al groter rol in misdaad in Suid-Afrika te speel.

Mense wat nog glo dat dit nie “met ons kinders” of “in ons skool” of in “ons dorp” gebeur nie, leef in ’n droomwêreld.

Die polisie in Limpopo waarsku al geruime tyd dat ook dié pragtige, plattelandse provinsie deurtrek is van dwelms. Kyk maar na die reusehoeveelhede dwelms waarop die polisie van tyd tot tyd beslag lê.

Kommerwekkend is die toenemende gatal berigte, gerugte, stories, bewerings — noem dit wat jy wil — dat al hoe meer hoë amptenare, prominente sakemense en selfs wetstoepassers betrokke is by van dié bedrywighede. Of net anderpad kyk. Of hulle vriende waarsku wanneer daar klopjagte gaan wees. Of net aanhou sê hulle “is bewus van sekere bewerings en hulle hou die situasie dop”.

Hoeveel tragedies waarin mense “onverklaarbaar” dood of vermoor is, kan eintlik aan dwelmverwante bedrywighede toegeskryf word? Die Pos vermoed dit is báie meer as wat Jan Alleman besef.

In ’n klein gemeenskap, soos dié waarin Die Pos-koerant versprei word, ken mense dikwels hul gemeenskap baie goed. Hulle weet dinge. Hulle sien dinge. Maar hulle verkies om anderpad te kyk en nie “betrokke” te raak nie.

Totdat dit jou eie kind, jou gesin, jou vriende is — dan is mense gewoonlik diep geskok en kwaad.

Die nuus dat ’n Nigeriër wat om asiel in Suid-Afrika aansoek gedoen het en dus wettig in die land is, die afgelope week in die Bela-Bela-landdroshof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is weens dwelmverwante misdade, laat ’n wrang smaak in ’n mens se mond.

Vyf jaar? Vir ’n buitelander aan wie Suid-Afrika goedgunstiglik asiel gebied het?

Lande soos Bangkok, Thailand en Brasilië is bekend vir hul streng optrede teen dwelmsmouse, asook vir die haglike toestande in hul tronke. Daar word gereeld in die media berig oor Suid-Afrikaners wat in dié lande tot die doodstraf of lewenslange tronkstraf gevonnis word weens dwelmverwante misdade.

Mag die wetstoepassers én die gemeenskap se oë oopgaan vir dit wat reg onder ons neuse aan die gang is. En die gevaar wat dit vir ons dorpe en kinders inhou.

Wetsgehoorsame inwoners van die Bosveld wil graag vreeslose wetstoepassers hê wat volwassenes wat kinders aan dwelms blootstel, boei en uit die samelewing verwyder — totdat daar met sekerheid gesê kan word dat dit weer veilig is om hulle in die samelewing te hê.

Related Articles

Back to top button