Onderwysers moet deesdae groot uitdagings die hoof bied — daar is min mense wat met dié stelling sal verskil.
In Suid-Afrika worstel onderwysers natuurlik met unieke probleme, maar ook in die res van die wêreld is dié beroep skynbaar in diep water.
Onvoldoende salarisse, gebrek aan dissipline en respek van sowel leerders as hul ouers, dwelms, ’n magdom papierwerk en oorvol klasse is maar net ’n paar van die probleempunte wat onlangs in ’n wêreldwye opname onder onderwysers in die soeklig geplaas is.
In dié meningstuk vertel ’n onderwyser van die staat Guanajuato in Meksiko dat leerders in ’n milieu grootword waar hulle vuil taal en ander slegte gewoontes aanleer. Armoede is ook ’n groot probleem.
’n Onderwyser in Italië glo weer dat kinders beïnvloed word deur die gees van opstandigheid, weerspannigheid en ongehoorsaamheid. “’n Gees wat die hele samelewing tans oorheers.”
In die Verenigde State van Amerika (VSA) het onlangse skietvoorvalle by skole weer die feit beklemtoon dat geweld ’n groot probleem in skole is. Onderwyskenners in die VSA skat dat 135 000 vuurwapens elke dag na dié land se openbare skole gebring word. Om die aantal vuurwapens in skole te verminder, maak amptenare onder meer gebruik van metaalverklikkers, veiligheidskameras, opgeleide honde, sluitkasklopjagte, identiteitskaarte en ’n verbod om boeksakke skool toe te bring.
Dit is duidelik dat die pad vir onderwysers regoor die wêreld vol dorings besaai lê. Dit is daarom merkwaardig dat die Global Teachers Prize vir 2019 die afgelope week toegeken is aan ’n Keniaanse onderwyser.
Peter Tabichi (36) het $1000 vir dié prestasie ontvang. Volgens die organiseerders gebruik hy maandeliks 80% van sy salaris om leerders in sy skool se nood te verlig. Hy is ’n wiskunde- en wetenskaponderwyser by Keriko Mixed Day Secondary School wat in ’n klein en afgesonderde dorpie in dié land se semiwoestyngebied geleë is. Sy skool is van die armste skole in die land en ’n derde van die leerders is weeskinders. Daar is 58 leerders in ’n klas, een rekenaar vir almal en ’n baie swak internetsein. Dié omstandighede het Tabichi net meer gemotiveer en hy het onder meer sy stu-dente ingeskryf vir wetenskapolimpiades teen van die beste skole in Kenia — en hulle het uitstekend gevaar.
Ná afloop van die toekenningsgeleentheid in Dubai het Tabichi, wat nege ander finaliste uitgestof het, in sy toespraak gesê dat ’n mens in “Afrika elke dag op ’n skoon bladsy moet begin” en dat dié prys ’n bewys is dat ’n mens enigiets kan vermag.
’n Mens spreek die hoop uit dat Tabichi se verhaal onderwysers, veral in Suid-Afrika, weer nuwe moed sal gee. En miskien is Tabichi se raad om elke dag op ’n nuwe bladsy te begin, woorde wat alle Suid-Afrikaners ter harte kan neem.