BlogsOpinion

Hoofartikel: Gee ons tog net ’n bietjie goeie nuus

“Wat se vreemde musiek luister Mamma?” vra die tienerkind nou een aand toe sy verbystap.

Soms lê ek naweekaande met my tablet teen my bobene in die kooi en ou YouTube-musiekvideo’s kyk.

Goed soos Mike Oldfield en Bonnie Tyler wat Islands sing of Terry Jacks se Seasons in the Sun of Kris Kristofferson se Sunday Morning Coming Down.

Partykeer lag ek vreeslik. Ek meen, wie het byvoorbeeld geweet dat David Scobie, wat doer in die tagtigs oud en jonk met sy magtige stem in Gypsey Girl bekoor het, in die musiekvideo soos ’n gr. 9-seun uit ’n landbouskool lyk?

Partykeer huil ek ook ’n bietjie. Soos elke keer wanneer ek na Crococile Harris se Give me the Good News luister.

 

“Wat se vreemde musiek luister Mamma?” vra die tienerkind nou een aand toe sy verbystap.

“Die weemoed het my beet,” antwoord ek. “Kom kyk,” nooi ek en hou die tablet na haar toe uit. “Hierdie was ’n wêreldwye hit toe ek so oud soos jy was. En die sanger was nogal ’n Suid-Afrikaner.”

’n Man met ’n moewiese snor, Purdy-haarstyl en ’n giftige groen langbroek klou ’n mikrofoon vas. In die flikkerende lig van kandelare speel ’n krulkopklavierspeler meesleurende note. Kort-kort verander die beeld om oorlog-argiefmateriaal te wys van G5-kanonvuur.

If we accept the word forever
Maybe we should live together
And not be scared to watch
The late night news
You can’t use guns to build a nation
A bullet never was creation

“Die sanger se naam is Crocodile Harris,” sê ek. Wás, want hy is intussen dood. Ek het iewers gelees hy sou dié lied by die opening van die Mighty Men-saamtrek in 2015 in die Wes-Kaap gesing het, maar hy het kort voor die geleentheid onverwags by sy huis gesterf. Hy was 64 jaar oud.

“Shame,” sê die kind. “Hierdie is nogal heel sad, hoor.” Sy begin lag. “Ek lag nie oor die liedjie nie; ek lag oor die ou se naam. En oor sy snor en sy broek!”

“Min het eintlik verander,” sê ek vir die kind. “Ons is nog steeds bang om die aandnuus op TV te kyk. En oorlog is nog steeds ’n vieslike ding. En eintlik smag ons almal steeds vir ’n slaggie net na goeie nuus.”

En toe lag ek maar saam oor ou Krokodil se klere en snor. Wat anders kan ek doen?

Related Articles

Back to top button