BlogsOpinion

Hoofartikel: Van stoomtrein tot sneltrein

Die Pos-span het op Dinsdag 8 Oktober 37 verjaarsdagkersies doodgeblaas.

Die koerantbedryf het die afgelope 37 jaar byna skrikwekkend baie verander.

Van Die Pos se personeellede, wat al langer as 20 jaar vir die koerant werk, het die afgelope week met nostalgie en ’n tikkie humor teruggedink aan die koerant se kleuterdae.

Foto: pixabay

 

Aan die tyd toe koerantfoto’s nog in ’n donkerkamertjie ontwikkel is. Toe die berigte nog op ’n bladsy geplak is en die eerste kleurbladsye reeds op ’n Maandagmiddag vir die drukkery gestuur is — anders was die koerant nie Vrydae betyds op straat nie. Die meeste plaaslike koerante is destyds op ’n platpers gedruk. Sommige van hierdie platperse het nog met ’n slinger gewerk — byna soos die stoomtreine van ouds.

Die redaksiespan het nog op tikmasjiene gewerk en dit was deurnagtye op Woensdagaande en die koerantspan moes dit nie waag om krag uit ’n versterkingsdrankie te put nie! Want dan het berigte of foto’s soms onderstebo in die koerant verskyn  — alles onder die dekmantel van die “drukkersduiwel”.

Deesdae is die rekenaar ’n joernalis se beste vriend en ’n uitlegkunstenaar se énigste vriend. Foto’s is digitaal en die hele uitleg van die koerant word op rekenaar gedoen en met die druk van ’n paar knoppies word die koerant se inhoud letterlik op die rekenaarvoorstoep van ons drukkery in Polokwane afgelewer.

En saam met die tegnologie skiet koerante se wortels deesdae baie dieper en verder as net die gedrukte weergawe.

Buiten die 6 000 Pos-koerante wat weekliks gedruk word, spog ons webwerf met ongeveer 12 000 besoekers per week en die koerant se Facebook-blad het 14 895 volgelinge. Wanneer ons gróót nuus het, was daar al berigte wat meer as 300 000 keer op ons mediaplatforms gesien is. Daar is min ander mediaplatforms in die Waterberg-omgewing wat dié syfers kan klop.

Dit het natuurlik tot gevolg dat ons adverteerders wat deesdae aan al die bogenoemde platforms blootgestel word, veel meer waarde vir hul geld ontvang. Veral as ’n mens in ag neem dat ’n baie groot persentasie van die besoekers op die koerant se webwerf nié in die Waterberg-omgewing woon nie. Dit is die ideale geleentheid vir veral skole, toerismebestemmings, voertuighandelaars en eiendomsagente om hul produkte ook buite die koerant se verspreidingsgebied bekend te stel.

En eintlik volg die koerant al vir 37 jaar dieselfde resep: Ons verkoop nuus wat deur ’n gesoute span joernaliste aangebied word, en dan verkoop ons advertensies deur ’n goedopgeleide bemarkingspan. Nie nét ’n nuusblad of nét ’n advertensieplatform nie, want saam is dié kombinasie onoortreflik.

Van stoomtrein tot sneltrein met 37 stasies op die padkaart — nie sleg vir ’n plattelandse koerant nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button