BlogsOpinion

Hoofartikel: Laat ons net nog dié week jubel

“In Suid-Afrika is ons broos. Ons land moet herbou word. Om te herbou moet jy verenig en dan wys sport jou hóé.”

’n Pa (77) en seun (53) van Mbombela veg om hul lewens nadat plaasaanvallers hulle met ’n byl en panga aangeval het, maar ons gedagtes is nie heeltyd by hulle nie, want die telling was 32-12 en die William Webb Ellis-trofee is ons s’n.

’n Hoëkop van die EFF twiet bitsig: “Geluk aan #SiyaKolisi … die res gaan kry jul gelukwensinge van prins Harry”, maar ons gun hom sy oomblik van bitterheid, want ag ou, weet jy, party van ons is trots op die héle span, hoor.

 

Foto: BBC

 

In Noordhoek in die Kaapse Skiereiland word ’n geliefde sportman (30) in sy huis oorval en vermoor, maar ons wil dit nie vandag lees nie — ons wil baai in die glorie van pres. Cyril Ramaphosa wat op die veld stap — nommer ses-trui en al. Noordwes se onderwysdepartement bestee R11 miljoen sodat matrieks in bendegeteisterde woonburte in Klerksdorp in veiliger plekke as hul skool kan eksamen skryf, maar dié week wil ons dit nie hoor nie.

Ons wil die video oor en oor kyk van Faf de Klerk wat daar in sy swembroekie met die Suid-Afrikaanse vlag op staan en prins Harry se blad skud.

Ouers in Gauteng is woedend omdat meer as 34 000 leerders nie plek in die skool het nie, maar vandeesweek kan daardie LUR wat so bedreig voel deur Afrikaans na die maan vlieg: Rassie Erasmus is Afrigter van die Jaar, die Springbokke is die Span van die Jaar, Pieter-Steph du Toit is Speler van die Jaar en Siya Kolisi is ons álmal se kaptein.

Net vir een week wil Suid-Afrikaners nie om die braaivleisvure praat oor die polisie se begroting, die versengende droogte, die Belgiese man en Nederlandse vrou wat in Marloth Park vermoor is of die mense wat so lelik is met Boer Damian nie.

Ons hou ons ore toe vir praatjies oor die yslike sinkgat in Benoni, oudpres. Jacob Zuma se aansoek vir verlof tot appèl in sy korrupsieverhoor en die kredietgraderingsagentsap Moody’s wat Suid-Afrika se kredietgradering van stabiel tot negatief wysig.

Vir net nog dié week wil ons aaneen praat oor Queen se weergawe van We are the Champions, oor die toeters en vlae by die V&A Waterfront in Kaapstad, by Loftus Park in Pretoria en in Mitchells Plain.

Oor die plakkaat wat Estelien Vermeulen, Duane se ma, vasgehou het waarop staan: “Ma se Seun”, oor Handré Pollard se skopskoen, oor Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe se drieë, oor die Bokke wat met ’n bus deur die land ry. Oor Kolisi se pa wat vir die eerste keer in sy lewe ’n vliegtuig bestyg om sy kind te sien rugby speel.

Net nog dié week, asseblief. En dan kan ons almal teruggaan werk toe en soos Francois Pienaar, kaptein van die 1995-wêreldbekerspan, huiwerig waag om hoopvol te sê: “In Suid-Afrika is ons broos. Ons land moet herbou word. Om te herbou moet jy verenig en dan wys sport jou hóé.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button