BlogsOpinion

Hoofartikel: Die goeie tyding

Volgens sielkundiges is einde-van-die-jaar-sindroom ’n werklikheid.

“Moeg, geïrriteerd, emosioneel, angstig, depressief, maar die grootste hiervan is die moegheid. Loop tog versigtig en kyk gedurig oor jou skouer — hulle noem dit einde-van die-jaar-sindroom — dit oorval jou soos ’n dief in die nag.”

Só skryf ’n vriendin van my onlangs tong in die kies op haar Facebook-blad.

Humoristies gestel, maar miskien skuil daar, soos Shakespeare in King Lear geskryf het, waarheid agter die humor.

 

Foto: pxhere.com

 

Volgens sielkundiges is einde-van-die-jaar-sindroom ’n werklikheid en word dikwels gekenmerk deur uitputting en moegheid, veral in November en Desember. Klein dingetjies word groot en mense se lonte word korter.

Ook in die werksplek (dit is nou diegene wat bevoorreg genoeg is om in Suid-Afrika ’n werk te hê) voel dit vir baie mense asof hul welverdiende ruskans oor die Kersseisoen nooit gaan aanbreek nie.

Indien ’n mens terugkyk op 2019 was daar groot uitdagings en dit is te verstane dat mense moedeloos geswoeg is.

Die land se ekonomiese insinking dra sekerlik die meeste by tot die feit dat Suid-Afrikaners se horisonne verklein het. Daar is baie min mense wat die afgelope jaar nie die invloed van die tanende ekonomie eerstehands in hul klein binnekring ervaar het nie.

In ons familie lê ons snags wakker oor die droogte in die Noord-Kaap. Want in die Calvinia-omgewing, wat as die grootste rampgebied beskou word, lê my swaer se familieplaas waar hulle reeds die skaapkudde tot soveel as 80% verminder het — net om te oorleef. Hulle het vier jaar gelede reën gehad. Hulle weet nie eens waar môre se veevoer en kos vandaan gaan kom nie.

Baie van die boere in dié omgewing oorweeg dit sterk om alles te verkoop en elders ’n heenkome te vind. En ek lê in die nag en wonder waar daardie heenkome sal wees?

Die ekonomiese groeikoers van -3,2% vir die eerste kwartaal vanjaar laat min ruimte vir ekstra werkgeleenthede in die myn- en sakesektor. Is daar dalk iewers vir hulle ’n heenkome in die buiteland?

Dit is nou nie dat ek ’n prentjie sonder hoop wil skets nie. Ek probeer net verstaan hoe die moegheid en moedeloosheid by die voordeur ingeglip het.

En omdat ’n mens begrip het, wil jy vir mense sê dat hulle hierdie tyd van die jaar liefdevol en sagkens met hulself én die mense rondom hulle moet wees. Stuur sommer ’n mooi boodskap aan diegene vir wie jy dankie wil sê vir vanjaar se klein en groot oomblikke — dit kos immers nie geld nie.

Moenie dat die emosionele dief die oorhand kry nie. Al is daar geen vooruitsig op vakansie nie, al is die geskenke vanjaar yl onder die Kersboom gesaai. Want ons hou mos vas aan die goeie tyding wat helder opklink met Kersfeestyd: “Diep was ons verlore, Christus is gebore.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button