BlogsOpinion

Tsoenami van goeie nuus

Ná al die slegte nuus het ’n stortvloed van goeie nuus die land getref.

“Wees beter. Vaar beter.”

Dít is die boodskap wat die sprankelende Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika (wat ook die afgelope Sondag as Mej. Heeal gekroon is) in haar HeForShe-veldtog, oorgedra het.

 

Foto: timeslive.com

 

Dié woorde behoort diep inslag in Suid-Afrikaners se harte te vind.

Want miskien het ons land se mense té lank geglo dat hulle nie die beste verdien nie.

En iewers deur die loop van 2019 het die bordjies verhang. Dit is moeiilik om die presiese plek te bepaal waar die tektoniese plate van Suid-Afrika se menslike landskap begin verskuif het, maar dit was dalk die land se nasionale netbalspan wat die baanbrekerswerk in Julie in Engeland gedoen het met hul uitstekende vertoning in die Netbal-wêreldbekertoernooi.

Daarna het ’n stortvloed van goeie nuus die land getref. Dié stortvoed het onder meer gelei tot die stigting van die sosiale mediagroep #ImStaying in September waar gewone Suid-Afrikaners óók van die klein en groot wonderwerke in hul alledaagse bestaan begin vertel het.

’n Mens wil jou amper verstout om te sê dat selfs ’n swak regering en ekonomie, korrupsie, misdaad en rassehaat nie op die langtermyn sal kan staande bly teen die vloed van Suid-Afrikaners se positiewe geloof dat hulle beter as die gemiddeld verdien nie.

’n Mens hardloop in der waarheid 2020 tegemoet met ’n tsoenami van menslike prestasies wat Suid-Afrikaners in 2019 behaal het en die land se mense die nuwe jaar indra. Prestasies soos die volgende:

  • Die Ndlovu Youth Choir dring deur tot die eindronde van America’s Got Talent en het daarna die wêreld aan hul voete.
  • Die Springbokke word gekroon as wêreldkampioene tydens die Rugbywêreldbekerreeks in Japan.
  • Die Protea-netbalspan word gekroon as die kampioenspan in die 2019 Afrika-beker in Kaapstad.
  • Die Suid-Afrikaaanse swemmer Chad le Clos swem twee goue medalje tydens die Fina-wêreldswemkampioenskap in Qatar los.
  • Die Suid-Afrikaansgebore aanbieder van die Daily Show in Amerika, Trevor Noah, word die eerste komediant uit Afrika wie se vertoning in Madison Square Garden uitverkoop is.
  • Suid-Afrika wen goud en breek verskeie rekords tydens die 2019 Wêreld-para-atletiekkampioenskap in Dubai waar Mpumelelo Mhlongo sy eie 100 m-wêreldrekord verbeter in ’n ongelooflike tyd van 11,09 sekondes.
  • Die Blitsbokke hou die wenbeker omhoog tydens die Dubai-sewes-
    toernooi.
  • En die mooiste kersie op die koek is natuurlik die beeldskone Tunzi wat gekroon is as die mooiste vrou in die Mej. Heelal-kompetisie.
    Mag hierdie prestasies ook vir lesers in Die Pos se verspreidingsgebied as aanmoeding dien om in 2020 beter te wees en beter te vaar en ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskappe te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button