
Die afgelope naweek is die mooiste meisie in die land aangewys.
Die nuwe Mej. Suid-Afrika. Shudufhadzo Musida draai die Barbie-pop-mite dat “mooi” ellelange lokke en bene beteken op sy (kaal) kop.
In ’n onderhoud bieg die fyn skoonheid dat sy vyf jaar gelede geknies het oor hoe haar hare lyk en besef het dat haar hele selfbeeld daarvan afhang.
Op die ingewing besluit sy nee, dis nie gesond nie. Die lokke moet af.
Anders as Simson van ouds het dit Shudu sterker gemaak. Net soos haar voorganger Zozibini Tunzi, wat die titel verlede jaar met ’n moderne, kort haarstyl verower het en later as Mej. Heelal gekies is, het Shudu die boksie waarin ons die term mooi wil laat pas, herontwerp.
’n Stryery breek uit op ’n Facebook-blad oor watter deelnemer nou eintlik die wenner moes wees. ’n Botha sê die mooiste meisie het beslis met die kroon weggestap. Dit ontstel ’n Gumede wat sê enigiemand met oë in hul kop kon mos sien dat die tweede prinses, Natasha Joubert, moes die wenner wees.
Wat is mooi? In the eye of the beholder, laat weet my woordeboek.
Die sanger Theuns Jordaan sing melankolies dat dit ’n verwarde meisie in Beaufort-Wes is. Die wetenskap sê dat mense iemand as mooi beskryf wanneer hul gesigte simmetries is.
Selfs ’n baba, beweer hulle, ken die mooi/simmetriese gesigte uit tussen die onewerediges. Nee, sê die ouer mense. Skoonheid vergaan, maar deug bly staan.
Deesdae se skoonheidskoninginne spog met ritse kwalifikasies en welwillendheidsprojekte agter hul name.
Ek dink aan my gunstelingmense. En ek wonder: lê hul mooi in die simmetrie van hul gesigte of in die harmonie in hul harte?