BlogsOpinion

Hoofartikel: Die bittersoet van menswees

Dit is ons mamma-dogter-ritueel op Saterdagoggende — ’n pot Earl Grey-tee met roosterbrood en Ouma San se tuisgemaakte konfyt; lekker dikgesmeer.

Ek smeer ons roosterbrood — aarbeikonfyt vir my dogtertjie en pienkpomelomarmelade vir my.

“Hoekom is marmelade so bitter, Mamma?” vra sy.

Ek begin verduidelik dat net die wit stukkies van die pomelo bitter is, terwyl die sappige vlees binne heerlik soet is.

Die perfekte bittersoet lekkerte … nes die lewe.

Sy kyk my vraend aan. Kinderlik onskuldig en onbewus van wat nog voorlê. Want hoe verduidelik ek aan haar dat die lewe ook bittersoet is?

Maak nie saak hoeveel suiker ons byvoeg nie, daar sal altyd ook bitter tye wees.

Maak nie saak hoeveel ons lag nie, ons sal soms ook huil.

Maak nie saak hoeveel opwinding en aksie ons in elke dag prop nie, ons sal by tye uitgebrand en moedeloos in die bed wil bly.

Maak nie saak hoeveel tyd ons saam met vriende deurbring en deurnag dans tot dagbreek nie, ons sal by tye stoksielalleen en verlate voel.

Maak nie saak hoeveel liefde jy gee nie, iewers sal iemand jou hartbreek.

Maak nie saak hoe versigtig ons leef nie, daar sal teleurstelling, verraad en hartseer wees.

Maak nie saak hoe sterk ons probeer wees nie, soms sal ’n verlammende vrees jou beetpak en onderkry.

Maak nie saak hoeveel trane ons huil nie, soms loop dinge so katastrofies verkeerd dat dit nooit weer herstel kan word nie.

Maak nie saak hoeveel tyd ons spaar nie, die horlosie kan nooit teruggedraai word nie.

Maak nie saak hoeveel blou Maandae, stofstorms en reëndae ons tref nie — die son sal weer helder op jou lewenspad skyn.

Byt vas deur die opdraandes, versigtig met die afdraandes en wees dankbaar vir die gelykpad.

Al is die lewe bittersoet, is Langenhoven se woorde baie waar:

Jy kan jou swaarkry met lekkerkry klaarkry.

Related Articles

Back to top button