Hoofartikel: Hoe skoon is die lug wat ons inasem?
Luidens ’n verslag voldoen slegs 5% van die lande aan die WHO se riglyne.

Dit is heerlik op die platteland.
Pleks van verkeer en fabrieke is inwoners omring deur die natuur en asem hulle vars lug in, maar hoe skoon is die lug wat ons inasem regtig?
Die “World Quality Report 2022” vir luggehalte het ’n interaktiewe verslag wat luggehalte regoor die wêreld moniteer deur die stofdeeltjies per kubieke vierkant meter lug te meet. Dié verslag dui aan dat inwoners van die Waterberg grootliks met ’n geruste hart diep teue lug kan inasem. Die gehalte word van goed na matig gereken.
Thabazimbi is egter volgens data wat in 2022 ingesamel is sewende op die lys vir die swakste gehalte lug in Afrika.
Die vier stasies naaste aan Die Pos se lesersgebied is in Thabazimbi, Lephalale, Mokopane en Pretoria. Die luggehalte word beïnvloed deur ekonomiese aktiwiteite en natuurlike gebeurtenisse soos veldbrande. Hier is hul bevindinge:
Mokopane is 2 556e op die ranglys van 7 323 plekke regoor die wêreld waar luggehalte gemeet word en die luggehalte word as “goed” aangedui. Met die skryf van die berig het die dorp ’n punt van 23 op die luggehalte-indeks gehad met die fyn stofdeeltjies wat 1,1 keer meer is as wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aanbeveel.
Lephalale se lug is ook aangedui as “goed” met ’n telling van 32 op die luggehalte-indeks.
Thabazimbi, waar daar vir onder meer ystererts, platinum en andulisiet gemyn word, se luggehalte het die afgelope week gewissel tussen “matig” en “goed”. Die fyn stofdeeltjies in die lug is twee en ’n half keer meer as wat deur die WHO se riglyne aanbeveel word. Die dorp is 207ste uit 7 323 plekke op die ranglys van plekke wat gemoniteer word vir luggehalte met ’n telling van 52 op die indeks.
Luidens die verslag was die luggehalte verlede jaar in Mei, Julie en Augustus baie swak. Thabazimbi word gevolg deur Ekhuruleni in die 13de plek, Edenvale (17de), Ga-Rankuwa (18de) en Vereeniging (20ste) plekke met die swakste luggehalte op die kontinent.
Die luggehalte in Pretoria was die naweek “matig” met ’n telling van 73. Die stofdeeltjies was vier en ’n half keer meer as wat die WHO aanbeveel. Die stad is 894ste uit 7 323 plekke op die ranglys.
Die stad in Afrika met die swakste luggehalte is N’Djamena in Tsjad. Lahore in Pakistan het die swakste lug in die wêreld, met Hotan in China en Bhiwadi in Indië op sy hakke. Dié drie lande het verskeie stede op die lys van swakste luggehalte.
Luidens die verslag voldoen slegs 5% van die lande aan die WHO se riglyne.
Inwoners met allergieë weet dat besoedeling en stuifmeel in die lug ’n impak op hul gesondheid het. Volgens The Real Pollen Count-verslag wat op Vrydag 17 Maart deur die Universiteit van Kaapstad vrygestel is, het inwoners van Pretoria (die naaste punt aan ons lesersgebied waarvoor inligting verskaf word), tans ’n matige risiko vir grasstuifmeel en skimmel.
Plante wat allergieë veroorsaak sluit in akasia-, berke-, without-, moerbei-, bloekombome en plante in die asterfamilie, asook die gansvoetbossie.