Hoofartikel: Raar maar waar
Predikers maan die nasie om die reguit pad te loop, radio-omroepers en sangers vertel wat hulle dag behels, ma’s sit agter die stuurwiel voor skoolhekke en gee raad oor boeliegedrag of hul bloedjies se irriterende gewoontes en daar is selfs diegene wat ’n flou grappie of drie wil deel.

Ek wonder hoekom mense in hul hoë viertrekvoertuie moet sit en boodskappe oordra op sosiale media. Dit is nie net die bekendes en selfs dikwels berugtes nie, maar ook die gewone mensdom wat dié gier slaafs navolg.
FaceBook wemel van mense wat in die toe kajuit van hul 4×4-ryding sit en gesels. Dit is dalk die naaste wat hulle aan die gevoel van ’n radio-ateljee kan kom, maak ek myself wys.
Private geborgenheid, geen steurnis en jy wys sommer vir almal jy ry ook ’n luukse viertrekvoertuig, al bly jy in die hartjie van Brooklyn.
Hoe dit ookal sy, hier in die platteland is dit deesdae amper onmoontlik om nie ’n “geligte” voertuig te bestuur nie. Die paaie word skaars reggemaak of jy moet weer vir dieselfde dongas koes.
Met die hernuwing van my motorlisensieskyf einde verlede jaar het ek by die lisensiekantore gesit en wonder hoe maak diegene wat ’n toetsrit doen om ’n lisensie te bekom. Swaai jy soos ’n dronk afkop-hoender uit om al die gate te mis of ry jy reguit deur die diep dongas wat voor jou opdoem.
Met al die diensleweringsprobleme wat ons in die gesig staar, het ek die gebrek aan ’n privaat hospitaal onlangs aan my eie bas gevoel toe ek mediese hulp nodig gehad het. My voorland was soos baie ander inwoners van hier om so vinnig as moontlik in Pretoria uit te kom.
Met so ’n rit besef ek toe die stad sit ook nie om die draai nie en in ’n kritieke oomblik kan die afstand dalk jou lewe kos. Vanjaar hou ons dus duime vas dat die privaat hospitaal wat in Modimolle beplan word, ’n werklikheid word.
Die voorval het my ook laat besef hoe belangrik dit is dat jy ’n huisdokter op die platteland moet hê wat werklik omgee vir sy pasiënte en sy werk met die nodige passie doen. Voorwaar dankbaar dat dr. Meyer de Jonge my pad daardie oggend gekruis het.
Terug in die tuig is dit duidelik dat die skole ondanks talle uitdagings en te min plek vir al die kinders uitsien na ’n goeie atletiekseisoen en vele akademiese prestasies. 2024 hier gaat ons!