Kommentaar: Skolesport kan bou én breek
Tel jou woorde langs die sportveld. Dit geld vir beide ouers en afrigters.

Skole se atletiekseisoen het skaars geëindig, toe trek die wintersport weg met hul eerste wedstryde.
Vir baie volwassenes is hul eie deelname aan skolesport van hul gunsteling herinneringe aan hul skooldae en om toeskouer te wees wanneer hul kind deelneem ’n vreugde. Ander dink egter terug aan hul eie skolesport met ’n wrang smaak in die mond.
Deelname aan mededingende sport hou baie voordele vir ’n kind se ontwikkeling in omdat hulle belangrike lewensvaardighede soos spanwerk, dissipline, toegewydheid, werksetiek en deursettingsvermoë aanleer. Dit kan ook help om hul selfbeeld op te bou. Dit geld egter slegs wanneer dit reg aangepak word. Die onus hiervoor berus op die afrigter én ouers.
Dr. Rhona van Niekerk, ’n kliniese maatskaplike werker en traumaterapeut van Modimolle wat ook met talle pasiënte in die stad konsulteer, sê dat sy dikwels met jong atlete gesels wat swaar dra aan die druk om te presteer.
“Op die sportveld leer kinders baie vaardighede soos goeie kommunikasie en probleemoplossing. Kinders wat ’n goeie selfkonsep het, kry ook die kans om terug te ploeg en hul maats te help bou. Elke kind se ervaring op die sportveld is egter uniek omdat almal die spanning wat daarmee saamgaan anders verwerk. “Ek het onlangs met ’n talentvolle tiener gesels wat paniekaanvalle kry wanneer dit tyd raak om in die skoolbussie te klim. Die praatjies in die bussie onder spanmaats en die afrigter dat hulle nie mag verloor of die span teleurstel nie, het baie spanning veroorsaak omdat hy bang was dat hy nie goed genoeg sou speel nie. Teen die tyd wat die fluitjie op die veld blaas, was hy so gespanne dat hy nie kon presteer nie en te bang was dat hy iets verkeerd doen,” het sy gesê.
Klink die volgende vir jou bekend?
“Jy móét deelneem want Mamma het hierdie duur sportklere vir jou gekoop”, “Julle moenie vandag die span ‘drop’ nie”, “Pappa/Mamma het eerstespan gespeel en jy moet harder speel sodat jy ook kan.”
Volgens dr. Van Niekerk is dit soms subtiele uitsprake wat baie spanning in kinders laat opbou.
“Ouers en afrigters kan dan nie verstaan hoekom die kind na tydverloop nie meer aan sport wil deelneem nie. Dit is omdat die spanning te veel geraak het en kinders voel hulle nie aan die verwagtinge kan voldoen nie.” Sy sê dat sy soms verstom is oor die dinge wat kwyt geraak word langs sportvelde, veral laerskoolsport. “Klein lyfies in die grondslagfase is nie gemaak om hierdie soort spanning te hanteer nie. Dit affekteer egter kinders van alle ouderdomme.”
Sy is bekommerd oor die groot klem op kompetisie in skole met die verwagting van prestasie wat toeneem. Skole het ’n sakeonderneming geword en prestasie is ’n bemarkingsgeleentheid.
“’n Mens sien dit veral in stadskole. Die kinders is onder geweldige druk om te presteer en kry min kans om kind te wees. Ek wens dat skole professionele sportsielkundiges kan inkry om beide die afrigters én spelers leiding te gee. Afrigters moet hulself afvra: wat maak dat die kinders hier wil wees? ’n Kind wat wil deelneem en dit geniet, gaan beter presteer as een wat wankel onder die druk.”
Volgens dr. Van Niekerk word daar heelwat navorsing hieroor gedoen by die Universiteit van Pretoria.
“Liggaam, siel en gees moet gesond wees. Dan sal ’n kind of enige atleet, vanselfsprekend uit hul eie uit meer wil gee.”
Dit sal die kans dat jong atlete hulself uitbrand, verminder.
’n Dag langs of op die sportveld kan ouer/kind verhoudinge versterk en kinders se selfbeeld bou. ’n Ondersteunende ouer, maak nie saak wat die uitkoms van die wedstryd is nie, is goud werd.
Dit is herinneringe wat hul altyd saam met hulle sal dra.
Dr. Van Niekerk se raad:
“Weeg jou woorde, want dit dra gewig. Is jy seker jou kind se klein skouers kan dit dra?”