Kommentaar: Is beurtkrag terug na die nasionale verkiesing?
Almal is dit eens dat dit werklik ’n fees is om 24 uur per dag, elke dag elektrisiteit te kan hê.

Vir die meeste mense in die wêreld is dit ’n gegewe om die skakelaar te druk en die ligte gaan aan. In Suid-Afrika is dit ongelukkig nie so maklik nie. Suid-Afrikaners is vuisvoos gemoker deur voortslepende beurtkrag wat almal se lewens omvêr werp.
Beurtkrag kos die Suid-Afrikaanse belastingbetalers biljoene rande per jaar. Sakeondernemings kry baie swaar en dit het ’n groot koste implikasie wanneer hul van alternatiewe kragbronne gebruik moet maak om hul deure oop te hou.
Vir die gewone inwoners is dit ontwrigtend en maak mens moedeloos om op elke denkbare media bron te hoor hoe beurtkrag ons land laat steier. Al werk mens hoe spaarsamig word daar telkens aan ons voorgehou dat die netwerk onder druk is en ’n hoër fase van beurtkrag word ingestel.
Tans is verbruikers in Suid-Afrika in die ‘bevoorregte posisie’ (al is dit ’n diens waarvoor ons baie betaal) om reeds 60+ dae sonder enige beurtkrag te wees. Die minister van elektrisiteit, Kgosientso Ramokgopa noem dit ’n ‘gelukkige toeval’, maar talle Suid-Afrikaners is van mening dat hierdie slegs ’n verkiesings foefie is om kiesers oor te haal om weer vir die ANC te stem.
Daar bestaan die vermoede dat Eskom instandhouding op kritiese punte gestaak het, net sodat hulle die ligte kan aanhou, en dat hierdie proses meer skade aanrig as wat dit ons goed doen.
Ongeag die versekering van Eskom dat dit nie die geval is nie, bly hul opwekkings kapasiteit onder 60%. Eskom beweer dat verminderde aanvraag en ’n verhoogde privaat kapasiteit om krag op te wek, die gaping tussen voorsiening en behoefte drasties verlaag het. Volgens Ramokgopa kan hulle die mite dat Eskom alles in hul vermoë doen om die verkiesing, op Woensdag 29 Mei, vir die ANC te red, verwerp.
“Ons sien ’n uitsonderlike verbeterde energie aksieplan.” het hy gesê.
Wat is egter ons plaaslike sake-eienaars in Bela-Bela se opinie rondom die vermindering aan beurtkrag?
- Carel Coetzee van SuperSpar sê: “Ons spaar baie geld. Ek hoop nie dit staak na die verkiesing nie”.
- Trompie Hoffmeyer van NTK het op sy beurt gesê: “Tydens beurtkrag spandeer ons ongeveer R60 000 per maand aan diesel vir ons kragopwekker, daar is baie bestuurs uitdagings en beurtkrag bring ’n massiewe logistieke uitdaging mee. Ek verwag ’n groot ‘verrassing’ na die verkiesing.”
- Jooste Myburgh van Postnet meen: “Dit is vir my net te goed om waar te wees. My kragopwekkers is reeds volgemaak en staan gereed. Ek verwag nie dat die opskorting van beurtkrag gaan hou nie.”