
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, skryf:
Die VF Plus is geskok oor die vlaag plaasmoorde van die afgelope naweek en die stilswye daaroor deur pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, is teleurstellend.
Ramaphosa het dadelik sy medelye uitgespreek toe enkele moskees aangeval is en mense gesterf het. Hy het selfs ’n presidensiële kommissie van ondersoek aangestel na die aanvalle en moorde in moskees. Oor die plaasmoorde swyg hy.
Dieselfde geld die minister van polisie wat hom ook sterk uitgespreek het teen die aanvalle en moorde in moskees, maar oor plaasmoorde word niks gesê nie.
Die drie mans wat die naweek vermoor is, is Jeffrey Zetler (62) van die plaas Mooiberge buite Stellenbosch, Kallie Schoonraad (47) van Rustenburg en Peter Dawson (64) van Hartbeespoort.
Die minister van polisie het onlangs gesê rooftogte by huise is nou, as deel van die trio-misdade, ’n prioriteit vir die polisie. Die VF Plus se standpunt hieroor is dat ’n plaasaanval, en daarom plaasmoorde, in dieselfde kategorie as huisroof in ’n stad of dorp gesien kan word en daarom behoort dit dieselfde fokus en prioriteit van die polisie te geniet.
Ek gaan in dié verband ’n skrywe aan Ramaphosa rig om te vra dat daar ook ’n kommissie van ondersoek na plaasmoorde aangestel word, en sal ook ’n dringende vergadering met die minister van polisie aanvra om hom te versoek dat plaasmoorde ook as prioriteit hanteer moet word.’
Die VF Plus spreek sy medelye uit teenoor die families van die vermoorde boere. Die party sal voortgaan met sy stryd om die regering te laat besef dit is ’n prioriteit om plaasmoorde doeltreffend te bekamp.